Sedert 2010
 
         Trawler Heritage word opgedra ter nagedagtenis aan my oupa Eben Wessels, skipper van Runtu en Wildegans     
                                          
              Kontakbesonderhede: trawlerheritage@gmail.com

All material on this site is provided for personal reference only. All written material, photographs and video material on the website is copyright of www.trawlerheritage.co.za. If you wish to copy the information please e-mail me with your request. Where material had been used from other sources a note to the source/copyright holder will be given and you must abide to their rules before using any such material. No photograph nor video material which is property of Trawler Heritage is to be re-distributed on other websites, or cell phone applications without written permission. Deliberate manipulation or removal of the official Trawler Heritage logo from photographs or video material is considered unethical. If you feel that you have an issue with any information/photo displayed on this website, please e-mail me with your request and I will gladly remove it from this site.

                               

 
      Hul name sal nooit weer vergeet word nie...
       
Girl Marian  Knut  Axel  The Hope   Boy Nigel  Henriette  Girl Bernice  Marina   Consortium Omega   Otterdam  Vondeling   Achtervlei  Piet  Oranjestroom  Pafuri  Modern Maid   Girl Judith   Peredur   Captain Blood  Star of the Sea   Lynn  Oceana Point  Umzamani  Atlantic Skipper  Noordeveld  Restless Wave   Paul  Mizpah  Repulse  Girl Sarchen  Vleigans   Silver Dolphin   Morton B  Bella Prima   Deo Gloria   Oom Joos   El Rita   Rene Z   Oceana Mercury  Kalahari  Jacy  Bosbok  South West Petrel  Boy George  Weskus II   Duinekus   Boland   Arend E  Janice  Tiger Fish  Silver Marlin  President Brand  Dunbeith  Harvest Jupiter  Skipness  Atlantic Enterprise  Boetie Akie  Glen Mist  Highland Queen  Bella Capri  Andries Pretorius Bodam  Bloemfontein  Sandveld II  Eiland Urk  Etosha  Gelderland  Kirstenberg   Leslie J  Yorke Point  Trudy Marleen  Gunfi  Seegans  Rooijantjiesfontein   Esra Cruz  Adore II   Christa  Connie  Dagbreek  Victory   Violet Glen   Primrose   Alma Lucie   Baby Ronald   Stormgans   Sea Hawk  Terna  Jannie T   Jopie Fourie  Julie Lynn  Langeveld II   Marcon  Nidaros   Try-Again  The Harry  Tahiti  Torsver   Western Dawn  Pokkie M  Kavalier  Oceana Garnet  Boy Donald  Ruwekus  South West Falcon  Oom Ben  Sneeugans  Drambuie  Renown  Astronaut  Theefontein  Lone Imp  Pino  Scotia  John Barbery  Garies  Jakob Rose  Zaandam  Vegkop  Montrose II  Brazil  Oceana Vlei  Stormkus  Elze Jeanne  Hesko  Drakensvlei  Brandaris  Doloreze  Botlierskop  Flying Stiletto  Fred Snucky  Dunmuir  Lantana  Hout Kloof  Gwendoline  Karibib  Arum   Paulsberg   Grootvlei  Louis Marlene  Oceana Ster                  
 
             Laaste Opdatering: 11 Junie 2026 
                        
                           
    

   SKUITE NUUSBLAD / TRAWLER NEWSPAGE
                        
 
   
   (Periode:
19 Februarie 2024 - 31 Maart 2026)  

 
        BESOEK DIE S.A.VISSERYE MUSEUM
   
Waar die geskiedenis van ons visbedryf bly voortleef

            


    

   


       
         
        

            

  
         VISTREILER PROFIELE

 


                   


        KOMMERSIëLE SKI-BOOT   
                    PROFIELE


                  
  
  


         


                    

                        AN EMBLEM OF
          PROUD WORKMANSHIP

           
The sticker above is displayed on the CAT 3412 main engine of the Cape Town based longliner "Cape Challenger". The sticker "Caterpillar - always brings you home " is exclusively used by Ritco Marine situated in Brackenfell, who besides installation work, also service and maintain the machinery onboard the "Cape Challenger".

   

                       NUWE HAWE  
            KENNISGEWINGSBORDE


Gedurende Junie-maand is verskeie nuwe kennisgewingborde by nege geproklameerde vissershawens langs die kus aangebring. Nuus oor die nuwe kennisgewingborde is wyd en syd verspreid en was selfs uitgesaai tydens nuus berigte op streeksradio stasies. Hieronder volg 'n paar voorbeelde van die nuwe en "vergete" naamborde wat onlangs oor Trawler Heritage se pad gespoel het...

              


                             NUWE KENNISGEWINGBORDE

Afgeneem hieronder is nuwe sowel as ou kennisgewingborde sommer deurmekaar - duidelik is daar nie mooi rekord gehou van al die verskeie boodskappe wat oorgedra moes word tydens die vervaardiging van die nuwe reeks kennisgewingborde nie...

              


                         VERGETE KENNISGEWINGBORDE

O'aardetjie tog! Hierso is dit duidelik dat Trawler Heritage elke hoekie en draai van elke hawe beter ken as die betrokke hawemeesters, wat in hierdie geval heeltemal vergeet het van hierdie reeks sonverbleikte kennisgewingborde wat sekerlik ook vervang moes word?

              


                               EFFEKTIEWE BOODSKAP?

Afgeneem hieronder is 'n splinternuwe kennisgewingbord opgerig by 'n skeepshelling (ek glo almal weet waarso dit geleë is) waarvan die boodskap wat oorgedra word en dit wat in die rooi sirkel aangetoon word in skerp kontras is met mekaar. Dit bewys maar net weereens die totale gebrek aan selfdissipline wat daar heers in ons wêreld. Kom ons kyk hoe lank kan hierdie kennisgewingbord staande bly voordat die bord met paal en al voete gaan kry...


             
                   
                 


 
      DEPARTEMENT PUBLIEKE
                         WERKE...
            WAT HET ONS HIERSO?

Gedurende Junie-maand 2025 is verskeie nuwe kennisgewingborde by die nege geproklameerde vissershawens langs die kuslyn opgerig. Trawler Heritage het by 'n vorige opdatering aan die crew die nuwe kennisgewingborde gewys, maar aai dit was nie lank nie, toe hierdie kennisgewingbord aangetref is op 31 Augustus 2025 op die Saldanhabaai skeepshelling. Trawler Heritage wil nou nie onvanpaste opmerkings skryf nie, maar sekerlik moet dit wat hierso uitgebeeld word 'n vorm van korrupsie wees? Kom ons begin net met die spelfoute, "extunguisher" en "parkign". Sekerlik moes 'n persoon verbonde aan Departement Publieke Werke aanvanklik 'n nota gemaak het met die verlangde boodskap wat oorgedra moes word, waarna dit aan 'n verkose drukker gestuur is, wat darem sekerlik/moontlik 'n vorm van kwaliteitsversekering moet toepas nadat die drukwerk voltooi was aangaande spelfoute. Hierna is die betrokke kennisgewingborde weer aan 'n subkontrakteur verskaf vir die montering van die kennisgewingborde. Dalk/moontlik/miskien sou die subkontrakteur die spelfoute opgemerk het en dit aan Departement Publieke Werke gerapporteer het...so sou mens kon redeneer, maar nee, in beide gevalle lag beide die drukker sowel as die subkontrakteur in die mou al die pad bank toe, selfvoldaan nadat hul nog 'n regeringskontrak kon los slaan (die splinternuwe Merc seker alreeds bestel).

Trawler Heritage is egter meer bekommerd oor die onvanpaste boodskap wat die kennisgewing bord uitdra - "parking limited 30 mins". Nou kyk mense, op hierdie dorre stuk aarde waarop die Saldanhabaai skeepshelling geleë is, is daar meer parkering beskikbaar as op die Kaapse parade gronde! Aldus moes die woord "limits" gebruik gewees het, maar dit laat ons nou weer met 'n ander tameletjie, want om die woord "limits" te gebruik sal ook onvanpas wees. So waarop kom dit dus neer? Kan ons 'n slip-spietkop te wagte wees wat met sy boekie en 'n "stop watch" daar gaan rond stap en kaartjies links en regs uitdeel wanneer die 30 minute verstryk het? (Daai slip-spietkop sal nog so kaartjies skryf totdat hy per ongeluk dit op die CFP-bakkies se ruite begin plak en sy moses teëkom). Hierdie is maar net nog 'n bewys dat Department Publieke Werke geen, maar soos in geen idee het van wat op 'n skeepshelling rêrig gebeur nie - hoeveel werk kan mens verrig op 'n skuit as jy net 30 minute lank mag parkeer op die skeepshelling - jy gaan mos nooit klaar kry nie!


                      
                                  
 


 
                DIS HOE ONS TRAWL!                        FEBRUARIE - MAART 2025

Met hierdie video gaan die stof uit die luidsprekers geskop word. Na sterk oorweging aangaande die inhoud van hierdie video, het Trawler Heritage van bakboord na stuurboord en weer terug na bakboord gegaan en uiteindelik besluit dat hierdie video kwalifiseer as 'n "dis hoe ons trawl" weergawe, pleks van 'n "iets van alles" weergawe. In hierdie video vang ons vis diep in die suide - daar's nie eintlik vis beskikbaar gewees nie, maar die visvang is intensief, en enige teken van iets met 'n stert aan sy lyf word gejag...

                          VIR "ELOMI"
 
Op 3 Maart 2025 moes die trotste vissersvloot ter wêreld weereens afskeid neem van nog 'n gedugte stryd-os in die vloot. Asof die 2025 pelagiese seisoen nie alreeds genoeg drama opgelewer het nie, moes ons met 'n swaar hart afskeid neem van "Elomi" en in hierdie video hieronder bring Trawler Heritage vir oulaas hulde aan hierdie geliefde skuit van Laaiplek.
 

                 IETS VAN ALLES
    OKTOBER '24 - FEBRUARIE '25                             
In die video hieronder word nie net die room van die Suid-Afrikaanse visbedryf uitgebeeld nie, maar ook hoe vinnig die noodlot kan toeslaan op die see. Die video word afgesluit met 'n argief video van "Bella Prima", waar sy vir oulaas die Trawler Heritage crew groet.      

                     VIR "BELLA PRIMA"
                                        1968-2025 

Nou ja mense, hoe neem mens afskeid van 'n skuit wat deel was van jou lewe oor soveel jare heen? In die video hieronder bring Trawler Heritage vir oulaas hulde aan een van die gedugste strydosse ooit, wat in diens was van die Suid-Afrikaanse pelagiese bedryf. Ons gaan jou mis "Bella Prima".

            "AMORIA" STOKVIS TRIP
                               OKTOBER 2024                             
In die video hieronder is die stokvislanglyn skuit "Amoria" in aksie tydens 'n Oktober-maand stokvis trip daar ver in die noorde buitekant Hondeklipbaai.  
      

   

                         IETS VAN ALLES
                APRIL - SEPTEMBER 2024

In die Iets van Alles video hieronder vir die tydperk April tot September 2024, word nie minder nie as 19 skuite en 'n skip uitgebeeld waaronder "Berggans", "Bateleur", "Michelle", "Seedelwer III", "Poseidon", "Wildegans II", "Stormgans", "Kolgans", "Vleigans", "Wafra", "Baby Ronald"; "Borderer"; "Ocean Blue", "Renja", "Romano Paulo"; "Ultra Galaxy", "Derek 1", "Karin 1"; "Duinekus" en "Imbaza". So, draai oop die volume knop en maak so bietjie geraas saam met die Trawlkampioene!            

  

                         IETS VAN ALLES
                     MAART - APRIL 2024

Reg mense, dis tyd om weer geraas te gaan maak daar in die Onderbaai met nog 'n "Iets van Alles" episode vir die tydperk Maart tot April 2024. Die oorgrootte van die videomateriaal is geneem op 23 Maart asook 15 April 2024. Alle drone beeldmateriaal uitgebeeld is verskaf deur Gert van Eeden en Ivan Mouton. Vir al die Caterpillar aanhangers daarbuite is die klankbaan van hierdie video gevul met die klinkende stamp geluide van Caterpillars, wat julle nog meer die reg gee om die volume knoppie wyd oop te draai!       

 
 
             
           "OCEANA AMETHYST" SINK
                            TER SEE

Hiermee moet Trawler Heritage aan die crew die hartseer nuus oordra dat een van Houtbaai se geliefde en bes versorgde skuite die "Oceana Amethyst", 'n stokvislanglynskuit gesink het op Vrydag agtermiddag 26 April 2024 sowat 14 seemyl reg wes van Llandudno nadat die skuit begin water in neem het. Die "Oceana Amethyst" is te hulp gesnel deur die "Penkop II" sowel as die N.S.R.I, waarna al die bemanningslede opgetel en by Redding 3
in die Waterfront geneem was. Die "Oceana Amethyst" was een van 'n handjie vol skuite wat nog behoue gebly het, wat terug in tyd deel gevorm het van die Da Gama Visbedryf op Houtbaai se pelagiese vloot.

In die video hieronder word "Oceana Amethyst" se laaste minute uitgebeeld voordat die skuit onder die water verdwyn het, terwyl 'n leeftyd se herhinneringe van die skuit verby flits...


 


   HOUTBAAI - 19 FEBRUARIE 2024

Reg mense, dis tyd om weer geraas te gaan maak op Houtbaai, vanwaar "Lisa Ann" die verrigtinge afskop op die maat van die voormalige "A-Team" klankbaan, net om aan te sluit by verlede maand se hoofopskrif, waarna alle chaos los breek en 40 skuite Houtbaai verlaat tydens 'n massavaart wat nie net uit Trawlkampioene bestaan nie,
maar ook 'n klompie van die tunapaal asook kreefskuite.   

 

                      IETS VAN ALLES
   DESEMBER 2023/JANUARIE 2024

Reg mense, dis tyd om weer geraas te maak met net die beste videomateriaal wat die trotste vissersvloot ter wêreld kan opdis vir die Trawler Heritage se crewmanne, vir die tydperk Desember 2023 en Januarie 2024. Vir diegene wie se maag nie sterk is in die slegte weer nie, drink maar eers 'n seesiekpilletjie, want dinge kan by tye so bietjie rof raak.
 

 

 

              9 JANUARIE 2025
            DIE DAG WAAROP                   
                 HOUTBAAI SE
              VISBEDRYF STERF

9 Januarie 2025 omstreeks 12:55 nm. sal in die anale van die Suid-Afrikaanse visbedryf aangeteken word as die datum en tyd waarop die visbedryf in Houtbaai finaal gesterf het.

In afwagting vir die kreefvloot om terug te keer huis toe, het Trawler Heritage ouder gewoonte stelling ingeneem by sy geliefde lighuisie op die Houtbaai langmuur en die seemyle geduldig af getel in afwagting vir die kreefvloot se terugvaart. Weens die algehele afsondering en kalmte van die res van die wêreld, het Trawler Heritage net daar op die kaai gaan sit, met gebuigde hoof en 'n diep gesprek met ons Here God aangeknoop waartydens ek Hom gevra en gesmeek het om ons pelagiese vloot te seën tydens die 2025 seisoen. My gesprek met God is egter geonderbreek deur "gangster-stemme" - en meteens staan daar twee manne voor my met lang messe, gereed om my leed aan te doen. Hulle eis R100 van my, maar benewens my kriekethoed en my mik-en-druk kamera het ek geen geld op my nie, nie eens 'n beursie nie. Met my kaal hande weer ek hulle aanslae keer op keer af, omring deur seewater links, regs en agter my, totdat daar 'n seiljag by die hawe se bek verby loop...die skipper en sy bemanning se oê is stip op die insident gerig en met 'n bulder stem roep die skipper uit "hold on, I am radio in the police"! Die aanvallers se aandag word vir 'n oomblik afgetrek en Trawler Heritage sien die kans en breek deur hulle. Gelukkig is die jeug en fiksheid nog aan Trawler Heritage se kant en daar laat waai ek af al langs die langmuur na veiligheid gevolg deur die twee aanvallers, terwyl die seiljag se skipper net daar in die hawe se bek 'n "u-turn" maak en al langs die langmuur afseil in 'n poging om my te beskerm, agter-om die yskaai, verby die slipkaai, en daar waar Da Gama se aflaaipompe eens gestaan het, het Trawler Heritage en die seiljag se paaie weer geskei, waarna die seiljag weer koers gevat het see toe. My grootste dank aan daardie seiljag om in 'n oomblik van angs my te vergesel het na veiligheid.

Om te dink dat mens nie eens meer veilig is om in die openbaar tot jou Here God te mag bid nie, sonder om te vrees vir jou lewe nie - mag ons Here God hulle van die aarde af wegvee en nooit weer aan hulle dink nie, en sou God sy toorn oor Houtbaai loslaat gaan daardie plek tot in sy fondamente geskud word - vir hul totale barbaarse optrede deur 'n man aan te val terwyl hy op die kaai gesit en bid het tot sy Here God en Hom gevra het vir vis. En hiermee groet Trawler Heritage dan ook vir Houtbaai, niemand het voor my ooit die moeite gedoen om die ryk geskiedenis van Houtbaai se visbedryf aan te teken en te verfilm tot in die mate waarin Trawler Heritage dit vermag het nie, en na Trawler Heritage sal daar ook niemand weer wees nie. Ou Houtbaai, al wat ek vir jou kan sê, is ek is nou klaar met jou - jy en jou visbedryf het nou finaal gesterf!


            
Houtbaai se lighuisie op die langmuur - die plek waar Trawler Heritage aangeval is terwyl hy op die kaai gesit en bid het vir vis op 9 Januarie 2025.

 
                                                                               

 

        TER NAGEDAGTENIS AAN
         OOM RODNEY MISPLON

Daar het in ons midde op 17 Junie 2025 nog 'n groot boom geval, met die nuus dat die legendariese bootbouer oom Rodney Misplon op 94-jarige ouderdom oorlede is. Oom Rodney was in sy leeftyd betrokke gewees by die bou van 501 skuite wat insluit trawlbakkies, kreefskuite, pelagiese skuite, navorsingsbote, patrolliebote, hoëspoed sport tuna bote, vragbote, asook N.S.R.I reddingsbote, vanwaar hy werksaam was oor die jare heen by Misplon & Co., Louw & Halvorsen, Globe Engineering en Republic Marine Contractors. Trawler Heritage was gevra om tydens die roudiens 'n huldeblyk te doen namens die hele Suid-Afrikaanse visbedryf, en hiermee vertrou ek dat daar nie 'n enkele booteienaar of visserman is wat nie sal saamstem met die huldeblyk oorgedra deur Trawler Heritage soos aangedui hieronder. En hiermee groet Trawler Heritage nog 'n mentor in my lewe. Met my laaste besoek aan oom Rodney, stop hy 'n foto van "Walvis Pioneer" in my hand en groet my - "jy weet mos wat gedoen moet word, en hoe dit gedoen moet word"...

        

The smell of oak, meranti, exotic hard woods and the constant hammering of block hammers at the yard of Louw & Halvorsen is today just a distant memory.

High quality wooden hulls, each one a piece of art created by skillful shipwrights - Rodney Misplon being one of the finest.

Exposed to the elements on a daily basis whether sun, rain, wind and cold, it was an environment in which Rodney thrived in.

In a world dominated by productivity, turn over, overheads and fancy composite materials, the contribution by shipwrights like Rodney himself to a modern society are seemingly forgotten.

Today, almost 50 years after the last wooden vessel left the yard of Louw & Halvorsen, 76 vessels still sail the seas around Southern Africa, bringing in their catches, every day and every night - all of them created by Rodney.

Through determination and skillful craftsmanship Rodney Misplon has left behind a legacy over many decades not known by many, as for the following examples.

The protection of our borders: By building navy patrol vessels as well as fisheries patrol vessels.

Sea Trade: By building supply vessels, providing supplies to large bulk carriers passing the Cape of Good Hope.

Rodney's biggest contribution was towards the South African fishing industry - providing the industry with hundreds of fishing vessels of all sizes - representing the pride of many fishing communities around the coast. The fishermen put all their trust in the craftsmanship of Rodney to provide them with sturdy boats, strong enough to survive even the biggest Cape winter storm.

Rodney's craftsmanship contributed to the wealth and prosperity of the fishing industry in many ways...

Rodney has helped to pay the school and university fees of the fishermen's children.

Rodney has helped the fishermen to buy homes, vehicles, food, clothing and even Christmas presents - The amount of cups of coffee, packets of cigarettes and glasses of brandy the fishermen consumed, only the heavens know...

Rodney even made a contribution regarding food security to millions of South Africans.

Milk for instance, people think that dairy comes from the farm, but in fact it comes from the sea. The dairy farmers are dependant on the fishermen to catch fish, which is then converted into fish meal, an important source of protein for the cattle. Every time you pour milk into your coffee, chances are good that the cow was fed fish meal, caught by a boat, build and maintained by Rodney himself.

Driving past a KFC, you don't smell chicken, you smell fish meal! So next time you enjoy your Streetwise Two meal, chances are good that the chicken was fed fish meal, caught by a boat build and maintained by Rodney himself.

I am going to leave you with one last story. I once came across a Misplon boat standing on dry ground at the Cape Docks with graffiti written on it's lower hull, apparently written by a guy called "Pinocchio" - maybe he also had a long nose, I don't know, but what was written was a true reflection of Rodney Misplon's life: "When boats were wood, and men were men".

                                    

 

                         NUWE KLEURSKEMA
                       VIR "STORMGANS"


Afgeneem hieronder op 18 Desember 2025 in Gansbaai spog "Stormgans" met 'n nuwe blou-en-wit kleurskema, vanwaar die skuit voorheen 'n blou-en-grys kleurskema vertoon het.


                                  "NUWE" KLEURSKEMA
                 

                                     "OU" KLEURSKEMA
                   
 


 

                   NUWE KLEURSKEMA VIR
                   "SOUTH WEST TERN"


Afgeneem hieronder op 19 November 2025 in Walvisbaai vertoon die stokvislanglynskuit "South West Tern" 'n nuwe wit en anti-fouling kleurskema, vanwaar die skuit voorheen 'n ligbou-en-wit kleurskema vertoon het.

                                 "NUWE" KLEURSKEMA
                 

                                  "OU" KLEURSKEMA
                 
     
       

 

                  LANK LEWE DIE TRADISIE
    VAN LAMBERTS BAY CANNING!


              
NUWE KLEURSKEMAS
               VIR "EL PESCADOR"
                      
EN "CONRAD"


Afgeneem hieronder op 10 November 2025 in Saldanhabaai spog die kreefskuit "El Pescador" ook nou in die tradisionele kleurskema van Lamberts Bay Canning, vanwaar die skuit voorheen slegs 'n rooi kleurskema vertoon het.


                              "NUWE" KLEURSKEMA
              

                                "OU" KLEURSKEMA
            

Afgeneem hieronder in Lambertsbaai spog die kreefskuit "Conrad"  ook nou in die tradisionele kleurskema van Lamberts Bay Canning, vanwaar die skuit voorheen 'n wit-oranje-blou kleurskema vertoon het.
       
                            "NUWE" KLEURSKEMA
                     

                                 "OU" KLEURSKEMA
             
                  

 

           "SILVER DORADO" VERWOES
                      IN VLAMME HEL

Afgeneem hieronder op 12 Januarie 2025 is die tjokkaskuit "Silver Dorado" aan haar eie lot oorgelaat nadat 'n brand aanboord ontstaan het buitekant Noordhoek naby Port Elizabeth. Al 21 bemanningslede is opgepik deur die tjokkaskuite "Loligo", "Maverick", "Raka" en "Vulcan".

          

Afgeneem hieronder op 13 Januarie 2025 by Cape Receife lê die smeulende romp van "Silver Dorado" op die klippe uitgespoel.

             
"Silver Dorado" is afkomstig uit dieselfde mould as die "Willem W", en vir diegene wat vir "Willem W" ken sal weet wat se mooi skuite dit was wat Tallie Marine in die laat 1990's gebou het...
         


 

            "BEGONIA" WORD BEKRAP

En so het ons toe al die tyd onder 'n wanindruk verkeer en gedog dis net Suid-Afrikaanse skuitverwers wat kan nonsens aanjaag? Gegewe die foto hieronder wat geneem is op die Walvisbaai syncrolift, wil dit voorkom asof dit ook 'n internasionale probleem is, gegewe hoe die skuitverwers op Walvisbaai die "Begonia" se agterstewes bekrap het, waarby hulle instede net "Luderitz" sommer die "Kaapstad", sowel as die ou "CTA" nommers ook weer geverf het wat inderwaarheid geen betekenis meer het nie. Hoe hoog op "thinners" moet 'n mens wees om hierdie klas nonsens aan te jaag?

            
          Dalk is die scaffolding so hoog en die lug so dun
            daarbo, dat die breinfunksies heeltemal uitsny?

                      

 

           DIE SKUIT-TOILET UPDATE

Reg mense, dis weer tyd om nader te sit om te kyk wat alles aangaan in die onderwêreld van skuit-toilette. Afgeneem hieronder op 10 September 2025 in die Kaapse dokke beloer ons "South West Lapwing" se skuit-toilet van naderby. Nou kyk, in die afwesigheid van 'n toilet-sitplek gaan 'n man dit maar moeilik hê in 'n rol-see, met jou bene voor jou uitgestrek en top bootse wat vasskop, hande wat weerskante van jou teen die "partitions" druk, met 'n rolletjie toiletpapier wat jy tussen jou tande vasbyt! Soos Trawler Heritage al telkemale vermeld het, is 'n dek wat rol en 'n rolletjie toiletpapier nie maatjies nie, en het dit al talle vissermanne letterlik met hul oliebroeke op hul knieë uitgevang, waar hulle hande-viervoet (sonder om te brul) agter 'n rolletjie toiletpapier aan kruip - dis 'n morsige besigheid om die minste te sê!

        
             

   "TOMREN" MAAK VOORSIENING
            VIR ITôTIE EN ITêTIE!

Nou toe nou, kyk net so vir "Tomren" - die skuitjie spog nou selfs met 'n "unisex" skuit-toilet! Ja wel, dis nou as mens die kennisgewingbordjie buite op die skuit-toilet se deur seker ernstig kan opneem?

Afgeneem hieronder op 10 September 2025 langs die Ooskaai toon die rooi sirkel die unieke kennisgewingbordjie aan buite op die skuit-toilet se deur van die "Tomren"...


                   

Daarsy, sien dis bedoel vir itôtie sowel as itêtie...hoe dan anders? En op hierdie noot trek ons eers weer die (anker)ketting. Tot 'n volgende keer, skuit-skuit, my storie is uit!

          
 

 

  DIE TROTSTE VISSERSVLOOT TERWêRELD NEEM AFSKEID VAN 'n LEGENDARIESE SKIPPER EN VLOOTBESTUURDER

                 
 

 

            "OCEANA RUBY" WORD
         HERDOOP TOT "TENDAI"

Afgeneem hieronder op 26 Januarie 2026 op Laaiplek is die voormalige "Oceana Ruby" wat voortaan bekend sal staan as "Tendai", wat in Shona-taal beteken "danksegging aan God". En daarmee neem ons afskeid van nog 'n "Oceana" skuitnaam waarmee ons groot geword het, en waarskynlik nooit weer op 'n ander skuit sal pryk nie - en nog 'n klein stukkie van Houtbaai se geskiedenis verdwyn onder ons oë in die niet...

                   
 

 

                 DIE SKUIT-TOILET UPDATE

Afgeneem hieronder op 26 Januarie 2026 op Laaiplek is hoe "Nossob" se whale back area tans daarna uitsien vanwaar die skuit tans gesloop word langs die kaai. Nou soos wat die skuit tans daarna uitsien is alle werkende toerusting alreeds van die skuit verwyder - daar is niks meer oor van waarde nie - rêrig? En hiermee gaan Trawler Heritage vir die soveelste keer vir die crew bewys dat die skuit toilet die sterkste voorwerp is op enige skuit wat selfs die aanslag van tien pond hammers en kettingsae kan oorleef...kyk gou wat staan daar in die rooi omkringde sirkel...die skuit se toilet!  

                   

                               
 "NOSSOB" SE SKUIT TOILET
                   
                            
Alles op die skuit is faktap geslaan
                  (aai dammit daar vloek ek nou) maar die     
                              skuit toilet is nog staande...

  

 

                 "BORDERER" SJOR IN
                       DIE SARDYNE

Afgeneem hieronder op 24 Januarie 2026 is "Borderer" besig om haar eerste skep sardyn vir die 2026 pelagiese seisoen in te pomp, skaars twee myl se loop buitekant Gansbaai se hawemuur.

                               
 


                    DIE 2025 AGTERSKOT  
                            OPDATERING 
                       NOU  BESKIKBAAR

Môre-môre, ek vertrou dit gaan nog goed met die crew. Net soos die hoofopskrif aandui het  Trawler Heritage seker gemaak dat die trotste vissersvloot ter wêreld sy status behou, nadat die opdaterings oor die afgelope maande baie skaars geraak het weens dummies, bababottels, vuil doeke en 'n groot pelagiese projek wat meeste van my tyd opgeneem het. En nee, Trawler Heritage was nie betrokke by die bou van Suid-Oranje se nuwe vismeelaanleg nie, en vir diegene wat deur die skrefies wil loer by Tallie Marine en Sachal, julle kyk in die verkeerde rigting! Daar is weer 'n kultuurskok oppad in ons visbedryf, die grootste een sedert 2007 toe die uitgesterwe "gans-name" een vir een uit die dode opgeroep is, maar meer daarvan in 'n latere uitgawe - laat ons maar eerder nie nou 'n trop slapende robbe by Kaap Kruis wakker maak nie...So klompie maande gelede vat ons die pad hier af Kaap toe vir die jaarlikse "Blessing of the Fleet" om die skuite te laat seën vir goeie vangste en vir die vissermanne se veiligheid ter see. Ek was vooraf gewaarsku, maar kom laat ek sommer terselfde tyd ook ander waarsku wat die "Blessing of the Fleet" nog gaan bywoon in die toekoms...Daardie "heilige water" waarmee die katolieke priester die skuite mee seën...bly weg van dit af! Moenie dat dit net eers per ongeluk op jou of op jou vrou spat nie - dis moeilikheid! Daardie water maak mens vrugbaarder as 'n Grabou-appel! Die gevolg? Die eerste baba-dogtertjie in 36 jaar in die familie maak haar verskyning ('n klein wonderwerk op sy eie). Volgens die tradisie waar ons die skuite na die kinders vernoem, het Trawler Heritage die gewoonte op sy kop gekeer en hierdie keer die kind na 'n skuit vernoem, en het die voorreg vir "Sette Mari" te beurt geval. Die Walvisbaaiers sal vir jou sê daar was so 'n skuit, die Onderbaaiers sal vir jou sê daar is so 'n skuit, en die vrou agter die toonbank by Binnelandse Sake het my vraend aangekyk want mens kon sommer sien sy het nie mooi geweet hoe mens hierdie kind se naam uitspreek nie!

In die jongste uitgawe spoel die vissies behoorlik van die dek af, die visputte is geblok en ons hardloop ooplyne oralste langs die kuslyn op en af, van Walvisbaai tot onder in Port Elizabeth, Bobaai, Onderbaai, Voorbaai en Agterbaai deur en gly om elke puntjie wat in ons pad kom. Met meer as 800 fotos en 'n musiekvideo vir die tydperk 25 Februarie 2025 tot 1 Januarie 2026 word die room van die Suid-Afrikaanse visbedryf uitgebeeld. Trawler Heritage wil geensins "brag" met hierdie skep nie, maar gedurende 2025 is 'n totaal van 1622 fotos geplaas wat die trots uitbeeld van die Suid-Afrikaanse visbedryf, en sover dit Trawler Heritage se kennis strek is daar geen ander maritieme publikasie, nog enige ander sosiale media blaaie wat met hierdie getalle kon mee ding nie, nie in S.A. ook nie elders in die wêreld nie.

Die 2025 pelagiese seisoen is een wat nie lank onthou sal word nie, ons het skuite gesink en ons het skuite af geskryf en inteendeel, was dit nie vir die oorvloed Rooi-oê wat die vloot aan die gang gehou het, sou dinge andersins maar baie sleg gelyk het. Vir drie seisoene agtereenvolgens het die migrende skole Ansjovis die land "mis geswem" en waar presies hulle, hulself nou bevind kan mens net raai. Dalk, moontlik, miskien diep in die suide kruip hulle weg, waar selfs die mees tegnologies gevorderdste pelagiese vloot in Afrika hulle nie kan bykom nie. Gegewe die verwagte lewensduur van 'n Ansjovis moes die eerste van daardie drie "vermiste" generasies Ansjovissies alreeds afgesterf het. Een ding is wel duidelik, en dit is dat ons 'n sewe maerjare siklus betree het. Diegene wat dit nou sou waag om 'n nuwe skuit in die water te sit, doen dit op eie risiko, so nie gaan die bankpaaiement jou slapelose nagte besorg. Gedurende die 2025 pelagiese seisoen was daar selfs 'n verbod op die vang van sardyne geplaas, en hierdie keer nie weens 'n oormaat klein-sardyntjie nie, maar weens trae verbruikersaanvraag en 'n algehele oorproduksie van ingemaakte sardyne. Die groot sondebok hierso is die ingevoerde sardyne wat op die Suid-Afrikaanse mark verkoop word onder huishoudelike handelsmerke. Kom ons wees eerlik met mekaar, en daarby saam moet ek erken dat Trawler Heritage self 'n persoon is wat feitlik daagliks 'n blik sardyne verorber, sommer net-so met 'n vurk uit blik! Die probleem is dat verbruikers hul aptyt verloor het vir ingemaakte sardyne weens die "slegte" of sal ons sê die ongewone smaak en tekstuur daarvan - selfs die kat trek sy neus daarvoor op en stap weg. Sedertdien Langeberg Ko-op sy deure gesluit het, is die smaak van tamatie purië net nie meer dieselfde nie, nadat die inmaakfabrieke genoop was om van alternatiewe verskaffers gebruik te maak. Die sardynbron word al vir dekades lank jaloers beskerm as 'n bron van protiëne vir menslike gebruik, en tog wil dit voorkom asof die sardynbron stadig maar seker weer soos onkruid aanteel gegewe die plate en plate vis wat op die sonars opgemerk word, maar netso ongehinderd agter gelaat moet word.

So gepraat van sardyn, ek lees die anderdag 'n historiese artikel van die Britse sleeptreiler genaamd "Kirkella". (en meteens sit die Walvisbaaiers nou kierts regop, want hulle onthou nog daai naam). Die "Kirkella" het gedurende 1967 'n stokvis ekspedisie onderneem en vanaf Hull in Engeland na Walvisbaai gevaar vanwaar die skuit (freezer stern trawler) werksaam was in die gebiedswaters van Suid-Wes Afrika. Die hele vangs is in die "Kirkella" se ruime gevries en is saam terug Engeland toe waar die vangs op die Britse vismarkte verkoop was. Dis egter die inhoud van die vangs wat Trawler Heritage se aandag getrek het, wat ingesluit het stokvis, monk, wit-steenbras, kabeljou, snoek en glo dit of nie....sardyne! Mense, en daar is nou finaal die bewyse dat terug in tyd dit nie saak gemaak het hoeveel wette en regulasies daar deur die destydse S.W.A Administrasie deurgevoer was nie, hulle kon eenvoudig net nie die sardyn bron binne Suid-Wes Afrika se gebiedswaters genoegsaam beskerm het teen buitelandse vissersvlote wat ongesteurd die bron kon plunder wat uiteindelik gelei het tot die totale ineenstorting daarvan nie.

                                             "Kirkella"
               

Die 2025 visseisoen sal egter onthou word vir alles wat geel is - geelkop sardyne, geelstert en geelvin tuna. Van geelbek het Trawler Heritage nie veel van gewaar nie. Die tuna manne het 'n uitstekende seisoen tot dusver beleef, en by tye het dit eerder gelyk asof die manne binne-in 'n akwariumtenk vol geelvin tuna vis gevang het. Dat die tuna manne tans in die geld baljaar is nie altemit nie. Interessant om op te merk dat die tuna manne wat huidiglik op die see is, slegs diegene is wat bootlenings het om terug te betaal, en reg ook so, werk hard en betaal julle skuite af voordat ook julle maerjare aanbreek.

Gedurende September-2025 lees ek van 'n persoon (binne die visbedryf) waarin die persoon sy ontevredenheid uitspreek dat die pelagiese fabriek waarby hy betrokke is alreeds produksie gestaak het gedurende daardie maand. En ek dink by myself, September-maand? Ou maat, jy is nog bevoorreg, terug in tyd het die pelagiese seisoen klokslag op 31 Augustus gesluit - met geen toegewings daarby nie, sodat die pelagiese bronne genoegsame tyd kon hê om hul eiertjies te gaan lê het. Vir 'n paar gelukkiges kon hulle weer Oktober-maand see toe gaan om te deel in die jaarlikse Makriel-bonanza, en daarna gedurende November en Desember maande het die pelagiese vissermanne gaan kreef vang. Maar, dit is ook al lankal iets van die verlede. Die makriel bron het ons immers ook uitgeroei, en dis veral die Russiese fabriekskepe wat binne ons gebiedswaters gewerk het, wat ook 'n groot aandeel daarin gehad het, gegewe dat dit nog die dae was van die oranje-blanje-blou. Laat mens nogal bietjie wonder nê?!


Die gebrekkige kennis rakende die huidige stand van sake sowel as die historiese agtergrond van die Suid-Afrikaanse visbedryf onder die algemene publiek (die 101.9% groep mense wat nie weet wat op die see aangaan nie) gaan Trawler Heritage se verstand te bowe. Dis die jaar 2026 en in 'n artikel wat slegs 'n dag of twee gelede gepubliseer word in die Daily Maverick, word daar met smaak gekorrespondeer aangaande die twee fabriekskepe van destyds by name "Suiderkruis" en "Willem Barendz" (Daily Maverick, maak net seker want julle spelling van die skepe se name is nie korrek nie). In die artikel word die waarheid verdraai dat beide skepe elk met 'n "lang net" toegerus was, kompleet met vriesgeriewe vir die vangste - Watse nonsens skryf die mense! In dieselfde artikel, is dit weer die ou afgesaagde storie van Chinese vistreilers wat tydens daglig net buitekant die 200-myl eksklusiewe sone lê, en dan tydens die nagtelike ure ons gebiedswaters binne dring en hul nette kom sleep tot teenaan ons kuslyn. Hoe de donner?! (verskoon my taal). Hoe doen mens dit, asseblief verduidelik dit vir my. Teen 'n gemiddelde spoed van 10 knope neem dit jou 'n dag, 'n nag en weer 'n halwe-dag net om die Suid-Afrikaanse kuslyn te bereik. Dan moet jy nog vis soek, jy moet nette afgooi, optrek, volmaak en dan weer "vlug" uit Suid-Afrikaanse gebiedswaters, 'n dag, 'n nag en 'n halwe-dag se loop ver tot by die 200-myl sone. Sulke denkwyses maak mos eenvoudig net nie sin nie!

Op 15 Januarie 2026 word Pioneer Fishing se nuut opgegradeerde vismeelaanleg van R170 miljoen amptelik geopen by Sandy Point hawe. Dit is uitstekende nuus vir die Suid-Afrikaanse pelagiese bedryf dat vismaatskappye op hierdie dag en uur nog bereid is om hierdie somme geld te investeer in die bedryf, eerder dat die bedryf maar net aanploeter met bestaande infrastruktuur. Alles goed en wel, maar in my leeftyd het Trawler Heritage gesien dat dit maak nie saak of jy die nuutste en duurste tegnologie aanwend, of die beste produksievloeie toepas nie, dis daarbuite by die aflaaipompe wanneer die dinge begin skeefloop wat die hele produksiesiklus tot op sy knieë dwing. Aan die einde van die dag is die effektiewe aflaai van die skuite die maak of breek van enige visfabriek. Die aflaaiers meld aan vir hul skofte, vol gepomp van "Monster" en "Score", blykbaar om die energie vlakke en konsentrasie te verbeter, maar dis seker net 'n "rumour"? Gedurende die pelagiese seisoen is daar gemiddeld net 156 seegaande dae beskikbaar, nie elke dag lewer vis op nie, maar sodra die vis dik loop dan is dit net drie dae voordat jy hoor hulle (aflaaiers) is moeg. Aflaaiwerk is nie altyd die skoonste van werke nie. Sou abattoirs glasvensters gehad het, sou veel minder mense vleis geëet het as wat tans die geval is - visfabrieke is nie ver agter nie. Die skippers voer 'n verbete stryd om can-vis se persentasie benutting so hoog as moontlik te hou, en in die geval van industriële vis laai jy al minder af hoe langer jy lê en wag teen die kaai. Die aflaaiproses is in baie gevalle die enigste interaksie wat die vissermanne met die fabriek het - wat die fabriek met die vis maak is hulle saak. Die aflaaiproses benodig passie en toewyding teen 'n hoë werkstempo. So, wanneer daardie laaste 5 ton uit die hold gepomp word, vat solank die deck wash en spuit die dek af, dit hoef immers nie te blink nie, maar elke bietjie help. Wanneer die skowwe en die bloedwater oormatig begin opdam op die kaai, vat die pyp en spoel af die kaai - daai water is mos immers verniet, ons betaal nie daarvoor nie! Kry die skuite terug in die see so gou moontlik en aan die einde van die maand is die geldjies, die agterskotte en die bonusse daar tesame met 'n glimlag op elkeen se gesig - en dis hoe 'n mens moet vis vang!

       Pioneer Fishing Vismeel Reduksie Scrubbers
      

En hiermee is dit eers weer tyd om te groet. Ek laat julle met een laaste gedagte van 'n persoon binne die visbedryf vir wie Trawler Heritage groot aansien het naamlik Tim Reddell, aangaande die huidige toestand van ons visbedyf - "it's about defending what we have and adding value". Die 2026 pelagiese seisoen is op hande en dis nou slegs oomblikke voordat die skuite begin dril en die hoeters lawaai. Tot 'n volgende keer, over!

 

                    IETS VAN ALLES
             JULIE '25 - JANUARIE '26                             
Nog nooit tevore het Trawler Heritage 'n video geskep waarin daar soveel chaos, die totale vernietiging van kapitaal bates met gepaardgaande verlies aan inkomste uitgebeeld word soos in die video hieronder nie. Alhoewel die meeste beeldmateriaal Walvisbaai, Saldanhabaai en Gansbaai uitbeeld, herhinner die inhoud van hierdie video ons maar net weer aan die gevare van die see.   

      

          

 

                   TALLIE MARINE LAAT        
            NUUTSTE PURSE SEINER
                       TER WATER

      
GOOD-LUCK "FIGHTING LADY!


Afgeneem hieronder op 17 Desember 2025 is die nuutste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse pelagiese vloot, die 83-voet "Fighting Lady" wat gebou is deur Tallie Marine in Sandy Point hawe.

         

                
 

 

                SACHAL LAAT NUUTSTE
          TUNAPAAL SKUIT TER
                        WATER

       
GOOD-LUCK "SANTA MARIA!


Afgeneem hieronder op 12 Desember 2025 is die nuutste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse tunapaal vloot, die 47-voet "Santa Maria" wat gebou is deur Sachal in Vredenburg. Die "Santa Maria" sal voortaan werksaam wees vanuit Houtbaai. Benewens tunapaal, sal die skuit ook ingerig word vir die vang van lewendige aas.

          

                       
 

 

                  NUWE STOKVISTREILER
                      VIR WALVISBAAI

                      
GOOD-LUCK
           "ATLANTIC CHALLENGE!


Afgeneem hieronder is die "Atlantic Challenge", die nuutste toevoeging tot die Namibiese stokvisvloot wat op 17 November 2025 in Walvisbaai gearriveer het tydens haar afleweringsvaart vanaf Skotland. Die "Atlantic Challenge" is 131-voet lank en is gedurende 1999 ter water gelaat.

        
 

 

                  NUUTSTE TOEVOEGING
                       TOT NAMIBIESE 
               MIDDELWATERVLOOT

              GOOD-LUCK "AMELIA"!

Afgeneem hieronder is die nuutste toevoeging tot die Namibiese middelwatervloot genaamd "Amelia" wat voorheen werksaam was in Marokko. Die "Amelia" is 223 voet lank, 39 voet breed en is gedurende 1978 ter water gelaat.


                    
    
    Ons sal moet begin kop hou met die skuitname,
                dis nou "Amoria", "Amalia" en "Amelia"...

 

 

                      "OCEAN FRESH" SE
                 SUSTERSKUIT TE KOOP

'n Mens mag nie begeer nie, maar kyk net watse skuit is tans in die mark verbonde aan Latvia se pelagiese visbedryf - een van "Ocean Fresh" se susterskuite! Vir diegene wat kennis het van "Ocean Fresh", sal saamstem dat hierdie kaliber skuite uiters geskik is vir die Suid-Afrikaanse pelagiese bedryf en kan net so aangewend word in plaaslike omstandighede sonder om te veel te torring aan die bestaande uitleg van die skuit. Wat hierdie skuit (gebou in 2003) nog meer geskik maak, is die feit dat sy aangedryf word deur 'n Caterpillar hoofmasjien en nie 'n Mitsubishi soos in "Ocean Fresh" se geval nie. Aai-aai, 'n man kan net droom daarvan om met so 'n skuit te kan werk - met hierdie skuite kan jy sjor in die vis dat net die wielhuisie nog uitsteek...


             
 

 

           
     "JAMES ARCHER" GAAN AWOL
   OP HAAR EIE TOT INKAALDUINE

Afgeneem hieronder vroeg gedurende Januarie 2026 lê "James Archer" nou uitgespoel by Kaalduine, aan die noordekant van Lambertsbaai. Iewerste in hierdie verhaal moes iemand so waar as wragtag met 'n oliebroek op die knieë uitgevang gewees het, want van so 'n bog storie het Trawler Heritage lanklaas van gehoor...Hoe op dees aarde breek 'n skuit los voor die ou skaalhuisie binne-in Lambertsbaai se hawe, dryf uit die hawe, eers af slip se kant toe, en dan weer skerp links sonder om 'n klip te slaan, en spoel uit by Kaalduine! Don't talk crap to me! Dalk eerder het iemand tot sy sinne gekom en besef die probleem op hande is veels te groot om te hanteer en die skuit by die hawe uitgehelp en gehoop dit gaan self die probleem oplos? Dis nou maar een van daardie eg klassieke Suid-Afrikaanse gevalle waar die skuit oor dekades heen mense ryk gemaak het, dan gestroop word van alle waardevolle en bruikbare artikels en aan sy eie lot oorgelaat word tot 'n kopseer vir andere...En so eindig die verhaal van nog 'n formidabele vistreiler in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse visbedryf.

                           
 

 

                       'n TWEEDE KANS VIR 
                       "BLOUDAM"?


Afgeneem hieronder op 10 November 2025 word die eertydse Southern Sea Fishing kreefskuit genaamd "Bloudam" verskuif na die Presidentskaai in Saldanhabaai, vanwaar die skuit nou 'n nuwe swart romp kleurskema vertoon nadat die skuit vir etlike jare "afgetree" gestaan het op die gronde van SSF. Of "Bloudam" egter haar naam gaan behou en watter funksie sy gaan verrig sal ons maar moet wag en kyk. En wie weet, in die tradisie van SSF mag haar nuwe naam dalk iets wees soos "Vaaldam" of "Swartzee", gegewe die nuwe kleurskema...


                                 "NUWE" KLEURSKEMA
                 

                                      "OU" KLEURSKEMA
                
                 

 

               "MR.M" WORD HERDOOP  
                 TOT
"SEA QUEST"

Afgeneem hieronder op 19 November 2025 in Walvisbaai staan die snoekskuit "Sea Quest" met 'n nuwe rooi kleurskema asook 'n nuwe naam, dit nadat die skuit voorheen bekend gestaan het as "Mr.M" en 'n wit kleurskema vertoon het.

                                     "SEA QUEST"
       

                                    DIE OU "MR.M"
            
      Terug in tyd toe oom Anton Tallie haar gebou het was hierdie klas skuite deur Tallie Marine bemark
                  as "the little white elephant".

             

 

                   SACHAL STAAN REG OM
                           LOS TE GOOI!
         
                          
GOOD-LUCK
                         "CREATIVITY"!


Afgeneem hieronder op 26 Januarie 2026 by die Sachal skeepswerf in Vredenburg staan die jongste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse pelagiese bedryf, genaamd "Creativity". Geskoei op die boulyne van haar voorganger die "Stormgans", is daar heelwat nuwe toevoegings sowel as kreatiwiteit aan die dag gelê met die vervaardiging van hierdie prag skuit oor die afgelope 10 maande. Kenmerkend op die bakboord boeg area is die anker se "hawser" pyp wat na dekades weer 'n "come back" maak. Terug in die laat 1960's was dit suksesvol aangewend deur beide Louw & Halvorsen asook Maritime Industries. Met die jare heen het die gebruik van die "hawsers" egter in ongebruik verval en is die laaste een nog gedeeltelik te siene op "Gregory Justin", alhoewel dit vandag bedek is onder tien lae glasvesel. Soos gebruiklik sal die "Creativity" padlands vervoer word na Sandy Point hawe vir die ter water lating wat voorlopig geskeduleer is vir 30 Januarie 2026, gegewe die heersende weersomstandighede en die gepaardgaande gety by aankoms in Sandy Point hawe.

                      

Afgeneem hieronder is die "Creativity" staande gemaak op 'n nuut ontwerpte "cradle" wat bo-op die vragmotor se sleepbak gemonteer sal word vir die moeisame tog see toe.

                            

Afgeneem hieronder op 2 Februarie 2026 vertrek "Creativity" padlangs oor 'n afstand van 23km vanaf Vredenburg na Sandy Point hawe.

                     

                           
 

 


                    



 




    




           

              
 



                  

                      


 

              




               

        

                  
 



   
         

 


             



           


                       
        

  

        

   

   

           

      

          
 

 

                                                   

  
                                            

              


                           

               
 



  

                         
  
            
        

         

         
                

        


               

   



          

    



             
             


 



             
 



                         



         

   .

        

  

                    

        

     



                   
                   
 

          



           
             

       



           

     



          
           


          

 


            

     
 


        

       

  


                  

                


 



  

      
                  

          
      
           


   


       
       


        
  

                              

  

   


  

         
 

  


                     
 

    

                         
                                              
                      
                     

                      
                                 

              

              

          


          


                       


                      
      

        

                      
 
                                 
                         



              
             

                 
                            


              

              
                                  

        

             
            
                       
              
                       
      

 

 

   


   


                     
 
   

            

            
                     
      


                                    
 

 
 
                                    

                      
                                


                                         



 
  


 

    
                                 

 

 

                                         
                      


      

         


                                         



                                     

                   'n GEBED VIR PELAGIESE VIS

Heer, hierby vra ons dat u die trotste pelagiese vloot ter wêreld sal seën met 'n oorvloed pelagiese vis gedurende die 2026 seisoen. Hou asseblief u veilige hand oor die vloot, vissermanne, fabriekspersoneel en die wat die kosmandjies voorberei ten einde arbeid te kan verrig. Doen asseblief iets hier onder die vissermanne wat vir U koninkryk 'n getuienis sal wees. Amen.

      


 

  DIE TROTSTE VISSERSVLOOT TER WêRELD NEEM AFSKEID VAN 'n LEGENDARIESE SKIPPER EN PIONIER  IN NAMIBIESE MARITIEME BEDRYF

                                ALAN LOUW
                  
26 NOVEMBER 1934 - 31 MAART 2026
                        
Hiermee dra Trawler Heritage die hartseer nuus oor aan die crew van 'n pionier in die Namibiese maritieme bedryf, oom Alan Louw wat ons verlaat het op 31 Mei 2026 op 91-jarige ouderdom. oom Alan was sedert 1960 skipper op Walvisbaai op verskeie bote, waaronder die "Benguela Stroom" sekerlik die bekendste was. oom Alan het ook gedien op die direksie van Benguela Sea Products op Walvisbaai, voordat hy die visbedryf finaal verlaat het en gedurende April 1970 Namib Marine Services gestig het met 'n voormalige sportvissersboot genaamd "Tikva", wat geskik was om 18 persone en 10 ton voorraad te kon vervoer. Vandag na meer as vyftig jaar diens aan die bedryf onder leiding van oom Alan, het Namib Marine Services gegroei tot een van die vernaamste diensverskaffers aan die plaaslike maritieme bedryf in en om Walvisbaai en spog die maatskappy met talle gedugte vragbote in hul vloot waarvan almal eertydse houtromp pelagiese bote was op hul dae waaronder "Bella Vanti", "Boy Russel", "Voortwaarts", "Palgrave" en "Astronaut". oom Alan se nalatenskap sal waarskynlik nog vir dekades om te kom, deel wees van die Namibiese maritieme bedryf.
 

 

                NUUTSTE VIDEO OP DIE     
        KANAAL VAN TRAWLKAMPIOENE
 
   
                 DIS HOE ONS TRAWL!
         
saam met "Borderer" en "Maria Adelaide"
                      Januarie '26 - April '26                             
Reg mense, dis tyd om weer die stof uit die luidsprekers te blaas met nog 'n lekker lewendige "Dis hoe ons trawl" musiekvideo! Die keuse van musiek vat mens terug na ons generasie se kuiers by Die Stal disco in Uilenkraalsmond, 'n treffer waarop ons al te lekker die heupies geskud het. Nooit gedink na bykans amper 30 jaar dat ek trawl videos sou maak op die maat van hierdie musiek nie - dis nog die dae toe "oorlede" Seegans se hok staande gemaak was op die verhoog voor die dansbaan en gedien het as 'n disco-hokkie vir die "dj". Vir al die kinders wat eers post-2000 jul ID's gekry het (#jullesalnieverstaannie). In hierdie video gaan vang ons sardyn en corvina saam met "Borderer" by Gansbaai en "Maria Adelaide" in Angola. Vir diegene wat nie vir "Maria Adelaide" ken nie, sy 'n Angolese purse seiner met 'n glasveselromp wat haar net oor die port side werk. Nou ja mense, sodra die hoeter blaas gooi ons 'n hele sardyn net in die water met skeppe vis wat volg. Net sodra die crew dink die chaos is verby, dan keer ons die skep letterlik om en word verrigtinge af gesluit  met 'n bonus video wat iets van alles bevat. Skuite wat "feature" in hierdie video is soos volg: "Borderer", "Maria Adelaide", "Ocean Blue", "Gondo", "Stormgans", "Wafra", "Kolgans", "Rietgans II" "Vleigans", "Sparticus", "Nanja" "Renja", "I Do", "Harvest Selina", "Ruwekus", "Makarios", "Boloko II", "Puento Sabaris", "Noordeveld", "Sailfish" loodsvaartuig "Avocet", en 'n verdwaalde galjoenvis...

      

          

 

                        'n BEKENDE GESIG
                          UIT DIE VERLEDE...


By hierdie tyd weet die crew al te goed dat hierdie webwerf se naam nie verniet Trawler Heritage heet nie, en dis oomblikke soos hieronder uitgebeeld waar die trotste vissersvloot ter wêreld vir die ander vissersnasies wys wat regtig in ons Suid-Afrikaners steek! Vir die eerste keer ooit kyk ons na 'n voormalige Noorweegse skuit genaamd "Hoddevik" (daar skrik die Walvisbaaiers nou wakker...) waar sy diep in die water lê, en siende dat geen nette waargeneem kan word nie, is dit vanselfsprekend dat haar ruime gevul is met rob-karkasse! (#kenjouskuitgeskiedenis). Vir die crewmanne wat nou geen idee het van wie of watter skuit Trawler Heritage hierso melding van maak nie, moenie sleg voel nie, wees trots op wat julle sien - dis ons eie "Lisa Ann" hoe sy oorspronklik gelyk het gedurende die 1950's!

                                                    
"HODDEVIK" - 1950's
                             

Dis meer as 70 jaar later en afgeneem hieronder is hoe "Lisa Ann", voorheen bekend as "Hoddevik" vandag daarna uitsien, feitlik onherkenbaar herbou van haar oorspronklike boustyl. Getem, gemodifiseer en omskep in 'n formidabele visvangmasjien net soos ons Suid-Afrikaners dit kan doen! 

                                                
"LISA ANN" - VANDAG
                             
 
    

 

                      GRAF VAN ONBEKENDE
        HOUTSKUIT GEVIND IN HOPEFIELD

Afgeneem hieronder op 24 Mei 2026 op 'n plaas in die Hopefield-distrik is hierdie "graf" van 'n onbekende houtskuit opgemerk waar dit langs 'n grensdraad lê. Indien enige van die crew dalk kennis dra watter skuit hierso ter ruste gelê is, laat weet asseblief vir Trawler Heritage by trawlerheritage@gmail.com sodat hierdie stukkie geskiedenis van ons visbedryf geboekstaaf kan word.

                        
               

 

                      VRAGTE VAN DIE NOORE

Afgeneem hieronder gedurende die 1976 pelagiese seisoen speel die Noorweegse purse seiner genaamd "Ringo", submarine met 'n volvrag vis oppad terug huis toe. Gegewe die situasie is hierdie nie jou gemiddelde skipper wat hierso in aksie te siene is nie, dis 'n #grootballasskipper. Net om vir die crew beter perspektief te gee van die skuit se uitleg - sy het nie 'n shelter deck op nie, sy het bulwarks, en daai wielhuis is 'n dubbele staalwielhuis, feitlik dieselfde grootte en konstruksie as die van "Emerald Isle"! Hierdie vissermanne het geen vrees saam gevat see toe nie - die skuit is toe-toe onder die water!

          
         By oupa Eben het ons geleer om altyd agressief vis te
         vang, maar terselfde tyd verantwoordelik te wees teenoor   
         die skuit, die crew, en die see. Oupa Eben het my talle kere
         bedag daarop gemaak met die volgende woorde: "Jy mag  
          bang raak vir die see, maar jy mag nooit paniekbevange
          raak nie, of so nie sal die seewater jou dood maak". Wyse
          woorde van 'n generasie skippers wat ons nooit weer sal
          hê nie.

                        
                 
          Skipper het gesê die net se "chute" moet blink, hy wil nie
         skoffies sien nie - kyk hoe word daai "chute" skoon gewas!

               

 

               TAIWANESE "SPOOK-SKUIT"
            VERSKYN AAN DIE WESKUS

In maritieme literatuur is vele verhale opgeteken van sogenaamde spookskepe waaronder "Mary Celeste", "Ouran Medan", "Joyita", "Carroll A. Deering" en op plaaslike bodem die bekende storie van die "Der Vliegende Hollander" wat op hul eie daarin kon slaag om oor die oseane te kon swerf sonder om ooit land te tref, en net so dan en wan hul verskyning te maak en dan weer in die niet verdwyn. Daar is tans weer 'n geval van 'n spook-skuit wat haar opwagting gemaak het langs die Weskus, genaamd "De Fu No.2", 'n Taiwanese langlynskuit wat op 25 September 2025 (dis nou al laasjaar) in die buitesee in die Indiese Oseaan aan die brand geslaan het en net so agterweë gelaat is nadat die bemanning opgepik was. Vanweë die intensiteit van die vlamme is daar aangeneem dat die "De Fu No.2" nooit die aanslag van die vlamme-hel sou kon weerstaan het nie, en dat sy eventueel sou sink...of so het hulle gedink! Om die romp van die "De Fu No.2" in perspektief te stel aan die crew, is haar dimensies feitlik presies dieselfde as die van "Silver Bounty" en "Silver Challenger", enigste verskil is, is dat "De Fu No.2 beskik oor 'n glasveselromp (persverklarings verkondig egter die nuus dat die skuit 'n metaalromp het - uit watter bilge pomp het julle daai gegewens gesuig?). Noudat die crew op dieselfde lengtegraad en breedtegraad is, en almal saam in die "raft" wil spring opsoek na Taiwanese glasvesels, laat ek net gou 'n tou in die propeller druk! Die ergonomika van hierdie oosterse skuite en die van ons westerlinge is een groot ramp. In kort gestel, ons pas nie in hierdie oosterse skuite nie, en vir diegene wat anders wil dink en redeneer het ek slegte nuus, SAMSA gaan weier om vir jou enige permit, nog toegewings te maak om so 'n skuit in Suid-Afrika te mag opereer. Julle onthou nog daai insident so paar jaar terug toe sewe oosterse glasvesels op veiling gekom het en in Houtbaai opgeëindig het? Sulke bloedrooi geverfde rompe met name soos "Libertas" en "Oom Tas" en wie weet wat nog nog alles - hulle moes daardie hele vloot van die hand sit weens ergonomiese tekortkominge. In die fotos hieronder geneem op 17 April 2026 ontdek die langlynskuit "Admiraal De Ruiter", die "De Fu No.2" in hierdie toestand waar sy dryf in die omgewing van Saldanhabaai! In streng kontras met wat die aardverwarmingkenners vir ons vertel van verandere seestrome, het die "De Fu No.2" insident egter vir ons bewys dat beide die Agulhas sowel as die Benguela seestrome nog baie gesond is, ten einde 'n skuit te kon "saamsleep" oor 'n tydperk van 7 maande. Die bemanning van die "Admiraal De Ruiter" kon egter daarin slaag om suksesvol 'n AIS sender aan die "De Fu No.2" se romp te kon heg, ten einde die navigasie risiko vir ander vaartuie in die omgewing te kon verminder. Nadat daar vasgestel is dat die romp van die "De Fu No.2" geen besoedelingsgevaar inhou nie, is sy op sleeptou geneem deur die vragboot, "Sea Carrier" afkomstig van Kaapstad en gesleep na St.Helenabaai waar die "De Fu No.2" op anker laat lê is in 'n posisie buitekant Sandy Point hawe onder bewaking van die pelagiese skuit "Lisa Ann". Die romp is deur duikers geinspekteur ten einde die integriteit van die romp te bepaal waarna daar finaal 'n besluit gemaak is om dit na Saldanhabaai hawe te sleep. En dis presies hierso, op hierdie punt waar Trawler Heritage begin wonder oor die konstruksie van hierdie Taiwanese glasvesels, wat oënskynlik oor bobaas-bouyancy beskik wat in hul DNA ingebou is. Suid-Afrika was al van die vroegste tye in die maritieme wêreld, leiers gewees op die gebied van glasveselskuit vervaardiging...Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die verskillende moondhede talle kere mekaar se vegvliegtuie en ander oorlogstuig ontleed en "re-engineering" daarop gedoen wanneer dit in die "vyand" se hande beland het, ten einde kennis op te bou van die "vyand" se tegnologie, wat dan op hul beurt weer aangewend was in hul eie wapentoerusting. Op plaaslike front vervaardig ons glasveselskuite wat kan omkeer sonder om te sink...dink nou net as ons hierdie Taiwanese bousel kan ontleed en dit in ons eie ontwerpe kan inkorporeer om selfs nog meer stabiele glasveselrompe te kan bou wat skynbaar onsinkbaar is? Die vraag is net gaan ons "wakker" wees en die meeste maak van hierdie geleentheid, of gaan ons dit laat sink? Sonder dat ons daarvoor baklei het, het ons dalk sonder om te besef, 'n "Taiwanese-Enigma" op 'n skinkbord gekry...Wat ons egter nou daarmee gaan maak, bly 'n ope vraag?

Afgeneem hieronder op 17 April 2026 ontdek die langlynskuit "Admiraal De Ruiter" die "De Fu No.2" in hierdie haglike kondisie in die Saldanhabaai omgewing - Taiwanese glasvesels wat nie wil sink nie! 

                            

                            

Afgeneem hieronder op 4 Mei 2026 lê "De Fu No.2" vasgemaak langs die Presidentskaai nadat sy deur die "Lisa Ann" gesleep is
na Saldanhabaai vanwaar die skuit nou gesloop gaan word.

                       

                         

                         
 

 

                 "CHRISTINA DEBORA" SPOEL
                       
 UIT IN WES-INDIË

Reg mense, trek aan julle lifejackets en meld onmiddelik aan by die "muster stations" vir nog 'n spookskuit storie vanuit ons eie geledere genaamd "Christina Debora"! Die "Christina Debora" is 'n voormalige Dutch Beamer met 'n lengte van 124 voet wat gedurende 2001 deur Erongo Fishing aangekoop is en na Suid-Afrika gevaar het vanwaar sy aanvanklik aangewend was in die stokvislanglyn sektor. Met verloop van tyd is "Christina Debora" egter omskep in 'n "standby safety" vaartuig wat gestastioneer was in die Elliot basin in die Kaapse dokke. Op 8 Junie 2025 sowat 300 myl noord-wes van St.Helena eiland begin die drama van "Christina Debora", met sewe bemanningslede aanboord, nadat daar daar 'n koppeling breek wat daartoe gelei het dat die skuit se stuur buitewerking geraak het. Op 11 Junie 2025 stuur 'n verbygaande skip offisieël 'n noodsein uit namens "Christina Debora" vir parte en vars drinkwater. Op 21 Junie 2025 daag hulp op, maar die bemanning kon nie daarin slaag om aandrywing vanaf die skuit se hoofmasjien te kon bewerkstellig nie. Op 23 Junie 2025 word 'n maritieme waarskuwing uitgestuur dat die "Christina Debora" verlate agter gelaat is, nadat die skuit water ingeneem het en enige verdere pogings om herstelwerk te kon verrig bemoeilik het. Al sewe bemanningslede is deur 'n verbygaande vragskip sowat 450 myl buitekant Ascension eiland opgepik. Op 28 Januarie 2026 (7 maande later) word die Barbados polisie deur plaaslike vissermanne in kennis gestel van die "Christina Debora" wat uitgespoel het op die wal by Sam Lord's Castle in die Wes-Indiese eilande.

Afgeneem hieronder op 28 Januarie 2026 lê die "Christina Debora" uitgespoel by Sam Lord's Castle in Barbados.
                                   
                           

                          

Geneem vanuit die Trawler Heritage argief is die "Christina Debora" tydens gelukkiger dae te siene op die Kaapse Synchroniseerhyser.

                           
             

 

                           SKUITE OP DIE KLIPPE

                             "SEAFLOWER" SPOEL UIT OP WAL

Afgeneem hieronder op 26 April 2026 lê die uitgediende stokvistreiler "Seaflower" uitgespoel op die wal in Luderitz, nadat die skuit los gebreek het van haar mooring, vanwaar die skuit sedert 2019 nog nie weer in die see was nie.

                                            

                
                   "INKALA"
SPOEL UIT IN BLOUWATERBAAI
                                                
                   

Afgeneem hieronder op 8 Maart 2026 lê die "Inkala" (links) wat deel vorm van die akwakultuurvloot in Peperbaai uitgespoel in Blouwaterbaai, nadat die skuit los gebreek het van haar mooring. Regs in die foto het "Christa" sowel as "Ferdie" kom hand bysit in 'n poging om die "Inkala" weer vlot te maak.

                                          

                                                                  
"INKALA"
                                  

                                 "WESTERN CREST" WORD GEBERG

Afgeneem hieronder op 13 Maart 2026 in Luderitz staan die romp van die diamantskuit "Western Crest" op droë grond nadat 'n bergingsmaatskappy van Walvisbaai suksesvol daarin kon slaag om die skuit te kon berg. Hierdie bergingspoging vorm deel van vier skuite wat vanuit die Luderitz hawegebied verwyder is. Die ander drie skuite na verneem is voormalige houtromp kreefskuite, maar soos gewoonlik in die breë maritieme bedryf word alles as "geheim" beskou en kon die name van die betrokke skuite nog nie vasgestel word nie.

                               
Trawler Heritage het 'n sterk vermoede dat een van die skuite wat geberg is die voormalige kreefskuit "South West Fulmar" was...

                         

 

               BERGRIVIER VANG VIR                   
                "KALAHARI"
UIT

Die Bergrivier met sy veradelike sandbanke het weereens 'n skuit beet gekry. Hierdie keer die voormalige Marine Products skuit van Laaiplek. Hoe lekker was dit nie om haar weer te sien maneuver in die Bergrivier, maar so vinnig het daardie mooi in soveel onnodige stres verander. Afgeneem hieronder tydens sonsopkoms op 15 Mei 2026 in Laaiplek lê die pelagiese skuit "Kalahari" afkomstig van Port Elizabeth se pens vas op 'n sandbank tydens die laagwater periode in 'n posisie reg oorkant Sandboskraal. Nog vars in ons gehuies het die Bergrivier ook tande gewys vir "Loeriesfontein", "Nossob" en "Ankoveld". 'n Mens kan net wonder wanneer dit Laaiplek hawe se beurt sal wees om broodnodige instandhoudingswerk te mag ontvang. Benewens die Regeringskaai wat al lankal die einde van sy leeftyd bereik het, benodig die Bergrivier-hawegebied ook dringend baggerwerk, maar in hierdie land van ons waar die instandhouding van infrastruktuur grootskaals agterweë gelaat word, lyk dit nie asof hulp binnekort op Laaiplek gaan opdaag nie.

                         
              

 

                      DORINGBAAI SE HAWE
                          STAAN VERLATE

Dis April-maand 1992 en die eerste winterstorm maak sy opwagting in Doringbaai. Die plaaslike kreefvloot is egter alreeds verskuif na die kalmte van die Bergrivier waar die vloot van North Bay Canning oor die volgende paar maande gaan oorwinter langs die kaai voor die fabriek by AIF voordat hul weer terug huiswaarts gaan keer. Die kernmerkende rooi rant skuite waaronder "El Rita", "Stock", "Seeleeu", "Fingo", Girl Judith" en "Hardeveld" kan nie mis gekyk word wanneer die Carinus brug by Velddrif oorgesteek word nie....Dis hoe dit was toe ons nog laaities was, maar ongelukkig staan tyd nie stil nie, en dis vandag 12 April 2026 en Doringbaai se hawe staan verlate, en selfs die spoke wat eens op 'n tyd hierso rond geloop het is ook al oorlede. Die laaste twee diamantskuite wat nog hierso werksaam was is ook nou weg - "Tuppence" lê in Lambertsbaai en "Marquerite" lê op die wal uitgespoel in Hondeklipbaai...

               

 

 

                                DIE "ABC" VAN SKUITE
                         
 (EN ANDER BYVANGSTE)

Daarsy mense, dis weer tyd vir die ABC van skuite, die kolom waarin ons nuwe geskifte aanboord van die skuite van naderby bekyk, sowel as 'n bietjie "gemengde vis" daarby wat Trawler Heritage bespeur het...

Afgeneem hieronder op 26 Januarie 2026 op Laaiplek is 'n skuitverwer besig om vir "Oceana Paragon" weer mooi te maak.

                               

                                NUWE NAAMLETTERS VIR "CASTELLA"

Afgeneem hieronder op 20 April 2026 op Laaiplek vertoon die sardynskuit "Castella" nou nuut geskilderde naamletters op haar agterstewes, vanwaar die skuit voorheen viniel naamletters vertoon het, maar in dieselfde asem moet Trawler Heritage net deel met die crew dat daar absoluut niks verkeerd is met die handgeverfde naamletters nie - dis uniek en verleen spesiale karakter aan die skuit!

                                           "NUWE" NAAMGESKIFTE
                              

                                  "OU" VINIELPLAKKER NAAMLETTERS
                               
En dis presies hierso waar Trawler Heritage nou begin kopkrap aangaande die skuit se port of registry wat ook skielik verander is van "Mosselbaai" na "Cape Town". Ek meen wie op aarde gaan op hierdie dag en uur nog die moeite doen om met owerhede te sukkel en te baklei om sy skuit se port of registry te verander? So, of dit werklik die geval is, en of dit slegs die kreatiwiteit van 'n oordrewe skuitverwer was, sal ek nie kan sê nie...

                NUWE ROEPLETTER STYL VIR "SILVER BOUNTY"


Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Sandy Point hawe vertoon "Silver Bounty" se roepletters nou 'n nuwe "stencil" letterstyl.

                                                  "NUWE" LETTERSTYL
                              

                                                       "OU" LETTERSTYL
                              


                                   NUWE ROEPLETTER VIR "TENDAI"

Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Sandy Point hawe vertoon "Tendai" nou 'n nuwe roepletter by name "ZT2153", vanwaar die skuit voorheen die roepletter "ZS2153" vertoon het.

                                           "NUWE" ROEPLETTER
                          

                                             "OU" ROEPLETTER
                          

                NUWE ROEPLETTER STYL VIR "TOWERKOP"


Afgeneem hieronder op 20 April 2026 op Laaiplek vertoon "Towerkop" se roepletters nou 'n nuwe "stencil" letterstyl.

                                              "NUWE" LETTERSTYL
                   

                                                   "OU" LETTERSTYL
                         

                     NUWE ROEPLETTER STYL VIR "SECHABA"


Afgeneem hieronder op 29 Maart 2026 langs die kaai by Suid-Oranje vertoon "Sechaba" se roepletters nou 'n nuwe "stencil" letterstyl.

                                              "NUWE" LETTERSTYL
                          

                                               "OU" LETTERSTYL
                           
                                    

                IS DIT NOU "VUNA IMBONGI" OF NET "IMBONGI"?

Afgeneem hieronder op 29 April 2026 in Gansbaai lê die tongvistreiler "Vuna Imbongi" of nee wag so bietjie, "Imbongi"? Ja wel, in hierdie geval is selfs Trawler Heritage ook nou "confuse" aangaande die skuit se amptelike naam. Siende dat die skuit nou wag om slip toe te gaan, wag ons maar geduldig en kyk of daar 'n aanpassing aan die skuit se naambord gemaak gaan word...

                            

                              "FIGHTING LADY" OF "FIGHTIN GLADY"?

Afgeneem hieronder op 26 Januarie 2026 by die Tallie Marine kaai in Sandy Point harbour word daar nog onverpoos afrondingswerk gedoen aanboord van die nuut geboude pelagiese skuit "Fighting Lady", of is dit nou "Fightin Glady" - hang af of jy na starboard of port side die skuit bekyk. Definitief is daar nie mooi tred gehou met die beskikbare spasie tussen die port holes op die port side whale back nie, en soos uitgewys deur 'n Walliese-uitruilstudent kan mens jou maklik misgis met die woord "glady" wat inderdaad "feëtjie" in Walliese moedertaal beteken! So mense, daar het julle dit nou, op starboard is sy 'n "vegtende dame", maar op port side is sy 'n "vegtende feëtjie"...

                                    "FIGHTING LADY" OP STARBOARD  
                            

                                     "FIGHTINGLADY" OP PORT SIDE
                            

                             NUWE NAAMLETTERS VIR "TERRASAN 1"

Afgeneem hieronder op 26 Januarie 2026 in Sandy Point hawe vertoon "Terrasan 1" nuwe swart-op-wit naamletters wat op die oog af baie beter vertoon as die vorige swart-op-blou naamletters.

                                              "NUWE" NAAMLETTERS
                            

                                               "OU" NAAMLETTERS
                            

                                   NUWE NAAMBORD VIR "KARIN 1"

Afgeneem hieronder op 8 Maart 2026 in Saldanhabaai is 'n nuwe naambord met vinielletters daarop, gemonteer teen die whale back se handreëlings. Voorheen was "Karin 1" se naamletters vertoon met slegs viniel plakkers wat teen die whale back geplak was.

                                               "NUWE" NAAMBORD
                             

                                              "OU" VINIEL PLAKKERS
                             


            NUWE STAINLESS STEEL UITLAATPYP VIR "ALPHA"

Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Sandy Point hawe toon die rooi sirkel 'n nuwe vlekvrye staal uitlaatpyp aan aanboord van die stokvislanglyn skuit "Alpha" - een van die hardwerkendste skuite in die stokvislanglyn sektor.

                           

                                             STRAATLAMP OF DEKLIG?

Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Sandy Point hawe toon die rooi sirkels nuwe dekligte aan wat gemonteer is bo-op die tunapaalskuit "Mpho" se wielhuis, wat op die oog af meer vertoon soos 'n straatlamp iewerste op die N1...

                           

          KREATIWITEIT EN PARALAKS FOUT OP "RHOGHAYA"

Afgeneem hieronder op 26 Januarie 2026 by die Tallie Marine kaai in Sandy Point harbour bekyk ons die dieptegang merke van die nuut geboude langlynskuit "Rhoghaya" van naderby, wat op die oog af lyk asof daar aanvanklik 'n paralaks fout begaan is, soos omkring met die geel sirkel. Of die skuitverwers ooit weer daarin gaan slaag om daardie tweekleur wit-en-swart dieptegang merk so perfek te mag skilder, betwyfel Trawler Heritage ten sterkste...

                           

Ons bly by kreatiwiteit, of in hierdie geval "Creativity"...Afgeneem hieronder op 20 April 2026 soos aangetoon met die rooi pyltjies wil Trawler Heritage 'n voorspelling waag dat hierdie "safety chain" nog een of twee crew manne lekker wakker gaan hou terwyl hulle in die "bonkse" lê onder "Creativity" se whale back...Ek glo stellig dat daar nog crewmanne is wat ook daai irreterende "klang-klang-klang" geluid ken wanneer jy in die bonks onder in die focsle lê, van die ankerketting wat teen die binnewand van die "hawser pyp" slaan, waaraan jy feitlik niks kan doen om die geraas te verhoed nie. In die geval van "Creativity" gaan daar 'n konstante "klak-klak-klak" geluid wees van die "safety chain" wat teen die raft slaan. Nee wat, los die kreatiwiteit en trek maar die "slack" in van daardie "safety chain"...

                            

                     "RESTLESS WAVE" KRY BOEGBESKERMING

Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Laaiplek soos aangetoon met die rooi pyltjies, is 'n vlekvrye staal "round bar" toegevoeg al rondom die buitelyne van "Restless Wave" se stuurboord boegarea ten einde die romp te beskerm teen die net se voorvlerk.

                                     

                     "DAGBREEK" (en "Samrock" en "Snowgoose")
                                KRY GEWAPENDE SEKURITEIT


Diefstal aanboord van ons skuite het geen perke meer nie, en die huidige situasie forseer eenvoudig booteienaars om die situasie in eie hande te neem. Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Laaiplek vertoon "Dagbreek" 'n gewapende reaksie sekuriteitsbord om te dien as waarskuwing aan voornemende inbrekers.

                             
Ja-nee, alles goed en wel totdat jy daarbuite op die see is, en die 11de plaag spring oor jou bo-lyne, verniel jou net voor die voet en plunder jou vangs na willekeur. Dan kan jy maar skop, skree en op die bliksems vloek, want daar is niemand, soos in niemand wat jou te hulp gaan snel (met 'n geweer in die hand nie)...

               PATRIOTISME OF DOODGEWOON ONNOSELGEID?

Nee gits mense, kyk as jy na 32 jaar van demokrasie nog nie weet watter kant van jou landsvlag is bo en watter kant is onder nie, dan is daar darem wragtag groot fout! Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Laaiplek en Sandy Point hawe vertoon "Loeriesfontein" sowel as "Atlantic Enterprise" ook nou Suid-Afrikaanse landsvlae - enigste probleem is net dit word onderstebo vertoon!

                                                          "LOERIESFONTEIN"
                               

                                                  "ATLANTIC ENTERPRISE"
                               
In die maritieme bedryf is daar wel 'n geskrewe reël aangaande landsvlae word onderstebo vertoon word op vaartuie - dit beteken fisies dat daar "chaos" heers op die betrokke vaartuig...Kom ons laat dit maar net hierso, ek gaan net mense onnodig kwaad maak.

                         

 

                          SKUIT-RADAR UPDATE

Reg mense, dis tyd om te kyk watter nuwe handelsmerke doen die "swaaiwerk" op die wielhuisdakke van die trotste vissersvloot ter wêreld. In hierdie uitgawe (snaaks genoeg) word daar geen melding gemaak van Furuno en Onwa nie, vanwaar daar feitlik by elke nuwe installasie slegs Koden produkte gebruik word. So kom laat ons swaai en draai in die wêreld van skuit-radars!

Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Sandy Point hawe is Tallie Marine nog druk besig met afrondingswerk aan die "Rhoghaya". Die rooi sirkel toon egter aan dat Koden die radar van keuse was.
                                        
                             

Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Sandy Point hawe is die indrukwekkende vooraansig van "Creativity" se wielhuis. Soos aangetoon met die rooi sirkel was Koden ook in hierdie geval die radar van voorkeur gewees.

                             

                       "CHAR-NEIL", WAAR IS JOU KODEN RADAR?

Afgeneem hieronder op 25 April 2026 in Sandy Point hawe toon die rooi sirkel 'n leë monteerbasis aan waarop een van "Char-Neil" se twee Koden radars op gemonteer was, maar tans verwyder is om watter rede(s) ookal.

                         

            AANGEPASTE RADARSTAANDER VIR "SANDALENE"

Afgeneem hieronder op 20 April 2026 op Laaiplek is 'n nuwe vlekvrye staal modifikasie gedoen aan die bestaande radarstaander van "Sandalene" soos aangedui met die rooi sirkel.

         
                             

Geneem vanuit die Trawler Heritage argief hieronder, is hoe "Sandalene" se radarstaander voorheen daarna uitgesien het.

                              

                                 NUWE SIMRAD RADAR VIR "KARLO"

Afgeneem hieronder op 8 Maart 2026 in Saldanhabaai vertoon die akwakultuurskuit "Karlo" nou 'n nuwe Simrad 3G radar, vanwaar die skuit voorheen toegerus was met 'n Furuno radar.

                            

          WAAR KRY "KALAHARI" HIERDIE "BRAND" VANDAAN?

Afgeneem hieronder op 20 April 2026 in Sandy Point hawe is 'n heel onbekende radar handelsmerk te siene bo-op "Kalahari" se wielhuisdak waarvan Trawler Heritage geen kennis dra nie - "Marinelite"? Lyk soos 'n Furuno, maar dis "made in China"...ok!

                           
               

 

                  LANK LEWE DIE TRADISIE
    VAN LAMBERTS BAY CANNING!


              
NUWE KLEURSKEMA
                       VIR "IMPALA"
                    


Afgeneem hieronder op 3 Junie 2026 in Houtbaai spog die kreefskuit "Impala" ook nou in die tradisionele kleurskema van Lamberts Bay Canning, vanwaar die skuit voorheen 'n grys kleurskema vertoon het.


                                     "NUWE" KLEURSKEMA
              

                                          "OU" KLEURSKEMA
              
                 

 

                          HOUTSKUITE VAN ELDERS

Afgeneem hieronder op 5 April 2026 in die omgewing van Phi-Phi eiland in Thailand loop 'n paar van die plaaslike houtskuite verby met baie interessante boustyle. 

Geen idee wat hierdie skuite se name is nie, maar van naderby bekyk sal mens oplet dat die wielhuis se dak sowel as die vloer dieselfde patroon volg as die skuit se bulwark.

                        

                      

                         

                         

                          
                        Meeste van die skuite is toegerus met grootmas
                   kieu-nette, aldus hulle vang enigiets wat 'n stert het...

                     

 

                   SUID-AFRIKA SE NUUTSTE
                       STOKVISTREILER

       
GOOD-LUCK "SANTA PRINCESA!


Afgeneem hieronder is die 215 voet "Santa Princesa", die nuutste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse stokvisbedryf. Die "Santa Princesa" het op 2 Februarie 2026 in die Kaapse dokke gearriveer tydens haar afleweringsvaart vanaf Vigo in Spanje vir eienaars Iberconsa. Die "Santa Princesa" met 'n bruto tonnemaat van 2165 ton is gedurende 1987 in Noorweë ter water gelaat en word aangedryf met 'n 4080 p.k. Wartsila, onder leiding van skipper Arrie Shepherd. 

                 

                                      
 

 


                   NUWE KLEURSKEMAS
               VIR "KARLO" EN "IMBAZA"


Afgeneem hieronder op 8 Maart 2026 in Saldanhabaai het die mosselboere die kleurskemas van beide die akwakultuurskuite "Imbaza" (voor) en "Karlo" (agter) verander, vanaf rooi na blou kleurskemas.

                        
    

                                         "IMBAZA" - OU KLEURSKEMA
                           

                                

                                       "KARLO"
- OU KLEURSKEMA

                                  
 

 

                       NUWE HAWE  
            KENNISGEWINGSBORDE
                 SIEN HULLE GAT(E)


Gedurende Junie-maand 2025 is die nuus wyd en syd op televisie, radio en koerante verkondig aangaande die nuwe kennisgewingborde wat deur Departement Publieke werke by al die geproklameerde vissershawens langs die kus aangebring is. Dis vandag 20 April 2026, skaars 10 maande later en mens kan nie anders as om jou kop te skud aangaande die vakmanskap wat hierso ter sprake is nie, vanwaar talle kennisgewingborde alreeds deur die wind afgeruk is, terwyl ander nog net aan genade hang...vakmanskap met 'n lang " f " vooraan...Jislaaik, maar ons regering kan darem mors met geld!

                                              

                           
                             

 

              DIE SKUIT-TOILET UPDATE

Reg mense, dis weer tyd om nader te sit om te kyk wat alles aangaan in die onderwêreld van skuit-toilette. Afgeneem hieronder op 20 April 2026 op die Sandy Point skeepshelling sien ons dat "Tygerberg" se toiletdeur skoon uit die raam geruk is!

                                      

Afgeneem hieronder op 16 Februarie 2026 in Laaiplek is 'n gesig waaraan ons glad nie gewoond is nie - 'n gebreekte toiletbak afkomstig van "Nossob" wat nie die aanslag van blokhamers kon weerstaan het nie.

                               

                                     
                 

 

                 "RADIANT STAR" EN "UMZAMO" 
                    
GAAN VEG VIR NAMIBIË
                            
Oor die afgelope aantal maande het Suid-Afrika afskeid geneem van talle skuite waaronder "Boloko I", "Comet" en "Oceana Rocket" wat almal 'n nuwe tuistes in Namibië gevind het. Ongelukkig neem ons afskeid van nog twee addisionele skuite, naamlik die tunapaalskuit "Radiant Star" van Houtbaai, asook die tjokkaskuit "Umzamo" van Port Elizabeth, vanwaar beide skuite voortaan werksaam sal wees as snoekskuite vanuit Walvisbaai. Die "Umzamo" is een van talle tjokkaskuite wat uit die sukkelende bedryf getree het. Ander tjokkaskuite soos die "Antares", "Kraken" en Perle Du Atlantic" was ook voorheen betrokke in die tjokkabedryf, maar het 'n beter heenkome gevind in die tunapaalbedryf. Benewens die "Umzamo", het die "Jika" en "Santa Lara" ook onlangs spreekwoordelike die tjokka-pan geskop en uit die bedryf getree, en hul aangesluit by die Houtbaai tunapaalvloot. Beide skuite is tans in aksie te siene waar hul snoek vang langs die Weskus.

                                                    
      "RADIANT STAR"
                            

                                                             
"UMZAMO"
                            
                         

 

                         DIE SKUITE HOU
                     VERJAARSDAG!


Gedurende Junie-maand het ons 15 skuit verjaarsdae om te vier.

              (Die skuite se onderskeie ouderdomme word
                        hieronder aangetoon in hakies.)
                
                               Luna Sea (4)
                     
   
                                 
                 
                          Samrock
(6)
                              
     
                           Wafra
(16)
                         
 

                      Silver Explorer (22)
                           
                         
                            Saxon (23)
                           

                     Highland Queen (30)
                          
    
    
                        Louisa Claire (36)
                          

                             Erica (45)
                         

                        Locqueran (51)
                           

                          Boloko I
(52)
                           
 
                          Sisters
(52)
                          

                    Bella Da Lunar
(55)
                          

                       
Stormkop (58)
                          

                     Oceana Topaz (59)
                          

                      Monnickendam (64)
                          

 

                        "CREATIVITY" WORD
                      TER WATER GELAAT


Afgeneem hieronder op 4 Februarie 2026 word "Creativity", die nuutste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse pelagiese vloot ter water gelaat in Sandy Point hawe. Vir die eerste keer in baie jare het ons weer 'n nuwe skuit in die water gesit met 'n mooi betekenisvolle naam, wat mens baie herhinner aan die Skotse visserman families se mooi skuitname byvoorbeeld "Fruitful Bow" ,"Prosperity", "Research", "Alacrity", "Accord", "Lunar Bow", "Tranquility", "Reliance", "Defiant", "Prolific", "Venturous"...en nou ons eie "Creativity", wat spog met 'n naam enig in haar soort.


                            

                            
Beloer ek die bootbou-skedules vir die res van die jaar, dan wil dit my voorkom asof die De Wet-familie aan nog 'n nuwe skuit gekoppel gaan word...Trawler Heritage het vroeër vanjaar melding gemaak van 'n "kultuurskok" wat die pelagiese bedryf gaan tref gedurende 2026, en al loer die nuuskieriges deur die skrefies by Sachal en Tallie Marine gaan hulle in elk geval niks sien nie, want dit kom vanuit 'n heel ander rigting...  
 

 

                      "NANJA" WORD WAL
                           TOE GEJAAG

Afgeneem hieronder op 3 Februarie 2026 in Club Mykonos word "Nanja" uit die water gelig vir 'n romp skrop asook haar jaarlikse "survey". Dis nie aldag dat mens 'n Sachal chukkie in hierdie deel van die wêreld sal aantref nie, maar nou ja, wat kan 'n man doen as die visbedryf nie "welkom" geag word elders by ander fasiliteite langs hierdie deel van die kuslyn nie.

                         
Moes ook maar mooi korrel en druk om seker te maak dat die crew nie onnodig blootgestel word aan die "maritieme pornografie" in die agtergrond nie - daai goedters met die lang maste. Met hierdie bank seiljagte wat hulle in hierdie hawe-tjie in gedruk het, kan jou skuit maklik siektes opdoen...
 

 

                      "WESTERN STAR" VERNIETIG
                               DEUR VLAMME

Op presies dieselfde oomblik dat die visbedryf juig oor twee nuwe skuite, het nog 'n vlamme-tragedie afgespeel langs die ooskus. Afgeneem hieronder op 2 Februarie 2026 woed 'n brand aanboord van die tjokka skuit "Western Star", afkomstig van St.Francisbaai. Die "Western Star" is 'n 40-voet Sachal bousel wat oorspronklik deel gevorm het van Paternoster Visserye se kreefvloot terug in tyd.

                         
 

 

                    TALLIE MARINE STAAN REG
                     MET NUUTSTE BOUSEL

                  
GOOD-LUCK "RHOGHAYA!


Afgeneem hieronder op 30 Januarie 2026 is die nuutste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse langlyn sektor, die 83-voet "Rhoghaya" wat gereed staan by die Tallie Marine skeepswerf. Die "Rhoghaya" se ter water lating is skeduleer vir 2 Februarie 2026.

                

Afgeneem hieronder op 2 Februarie 2026 langs die Tallie Marine kaai in Sandy Point hawe lê "Rhoghaya" nadat die skuit vroeër die dag ter water gelaat is.

     

                
 

 

                             IETS VAN ALLES
                               JANUARIE 2026
       
                     
In die video hieronder wat verfilm is by Gansbaai en Sandy Point gedurende die maand van Januarie 2026 word talle pelagiese skuite uitgebeeld waaronder "Wafra", "Aranos", "Oceana Concorde", "Southern Belle" en "Char-Neil", terwyl "Borderer" die een skep sardyn op 'n volgende droog maak. Die twee nuwelinge in die Suid-Afrikaanse vloot naamlik "Creativity" en "Rhogoya" maak ook vir die eerste keer hul video debut hier op die kanaal van trawlkampioene.
            
      

          

 





                   


                  


   


   

         
  




            

       




            

       

 



                   

      



                                    
                


                                      

               

                                

                 

 

       


             


                         
   

 


               



               

                 
               

            



                  



                  

                  
 

                 

              
       

                 



                 





                 


 



              

 

           



            

 

     
                   


               




                                             
                             

                      
                             

           
                             

   



      
 

 


  
 



                                    



                         


                             



                                  
             


                                     
                


    

                            

       



                    


                                        
                    


                                           
                    


            
 
               

  

                  


  
                         


 

                                       



 

 

   
                                

              

      


 

"