Hul name sal
nooit weer vergeet word nie...
Laaste
Opdatering:
8 Februarie 2025
SKUITE NUUSBLAD / TRAWLER NEWSPAGE

(Periode:
17 April 2023 - 30
September 2024)
BESOEK DIE S.A.VISSERYE MUSEUM
Waar die
geskiedenis van ons visbedryf bly voortleef


|


VISTREILER PROFIELE

KOMMERSIëLE SKI-BOOT
PROFIELE


AN EMBLEM OF
PROUD
WORKMANSHIP

The sticker above is displayed on the CAT 3412 main engine of the
Cape Town based longliner "Cape Challenger". The sticker "Caterpillar - always brings
you home " is exclusively used by Ritco Marine situated in Brackenfell, who
besides installation work, also service and maintain the machinery onboard the "Cape
Challenger".
FISHING VESSEL
FOR SALE
"STEENBRASDAM
"

|
"AMORIA" STOKVIS TRIP
OKTOBER 2024
In die video hieronder
is die stokvislanglyn skuit "Amoria" in aksie tydens 'n
Oktober-maand stokvis trip daar ver in die noorde buitekant
Hondeklipbaai.
IETS VAN ALLES
APRIL - SEPTEMBER 2024
In die Iets van Alles video hieronder
vir die tydperk April tot September 2024, word nie minder nie as
19 skuite en 'n skip uitgebeeld waaronder "Berggans", "Bateleur",
"Michelle", "Seedelwer III", "Poseidon", "Wildegans II", "Stormgans",
"Kolgans", "Vleigans", "Wafra", "Baby Ronald"; "Borderer";
"Ocean Blue", "Renja", "Romano Paulo"; "Ultra Galaxy", "Derek
1", "Karin 1"; "Duinekus" en "Imbaza". So, draai oop die volume
knop en maak so bietjie geraas saam met die Trawlkampioene!
IETS VAN ALLES
MAART - APRIL 2024
Reg mense, dis tyd om weer geraas
te gaan maak daar in die Onderbaai met nog 'n "Iets van Alles"
episode vir die tydperk Maart tot April 2024. Die oorgrootte van
die videomateriaal is geneem op 23 Maart asook 15 April 2024.
Alle drone beeldmateriaal uitgebeeld is verskaf deur Gert van
Eeden en Ivan Mouton. Vir al die Caterpillar aanhangers
daarbuite is die klankbaan van hierdie video gevul met die
klinkende stamp geluide van Caterpillars, wat julle nog meer die reg
gee om die volume knoppie wyd oop te draai!
"OCEANA
AMETHYST"
SINK
TER SEE
Hiermee moet Trawler Heritage
aan die crew die hartseer nuus oordra dat een van Houtbaai se
geliefde en bes versorgde skuite die "Oceana Amethyst", 'n stokvislanglynskuit gesink het op Vrydag
agtermiddag 26 April 2024 sowat 14 seemyl reg wes van Llandudno
nadat die skuit begin water in neem het. Die "Oceana Amethyst"
is te hulp gesnel deur die "Penkop II" sowel as die N.S.R.I,
waarna al die bemanningslede opgetel en by Redding 3
in die Waterfront geneem was.
Die "Oceana Amethyst" was een van 'n handjie vol skuite wat nog
behoue gebly het, wat terug in tyd deel gevorm het van die Da
Gama Visbedryf op Houtbaai se pelagiese vloot.
In die video hieronder
word "Oceana Amethyst" se laaste minute uitgebeeld voordat die
skuit onder die water verdwyn het, terwyl
'n leeftyd se herhinneringe van die skuit verby flits...
HOUTBAAI - 19
FEBRUARIE 2024
Reg mense, dis tyd om weer geraas
te gaan maak op Houtbaai, vanwaar "Lisa Ann" die verrigtinge
afskop op die maat van die voormalige "A-Team" klankbaan, net om
aan te sluit by verlede maand se hoofopskrif, waarna alle chaos
los breek en 40 skuite Houtbaai verlaat tydens 'n massavaart wat
nie net uit Trawlkampioene bestaan nie,
maar ook 'n klompie van
die tunapaal asook kreefskuite.
IETS VAN ALLES
DESEMBER 2023/JANUARIE 2024
Reg mense, dis tyd om weer geraas
te maak met net die beste videomateriaal wat die trotste
vissersvloot ter wêreld kan opdis vir die Trawler Heritage se
crewmanne, vir die tydperk Desember 2023 en Januarie 2024. Vir
diegene wie se maag nie sterk is in die slegte weer nie,
drink maar eers 'n seesiekpilletjie, want dinge kan by tye so
bietjie rof raak.
"WILDEGANS II"
LAAI 160 TON
ROOI-OOG
17 NOVEMBER 2023
Die video hieronder is waarskynlik
die laaste pelagiese aksie vir die 2023 seisoen waartydens "Wildegans
II" besig is om 160 ton Rooi-Oog in die visruime te pomp.
Alhoewel daar van die Trawler Heritage crewmanne is wat eerder
na stampgeluide van Caterpillars wil luister, is dit kere soos
hierdie waar daar geen perke is aan die opgewondenheid bo-op
die skuite se dek nie, dus los ons maar die Caterpillars dat hulle rustig
daaronder in die enjinkamer kan doen waarvoor hulle bekend is,
as ek nou Ritco Marine se leuse mag gebruik...om ons huis toe te
vat - altyd!
"ADENIA"
GOOI DIE VIS VREK!
24 JUNIE 2023
101.9% van die Suid-Afrikaanse
populasie sal nie die vreugde, nog die inhoud van die video
hieronder verstaan
nie - behalwe vir die regte
trawlkampioene!
HOUTBAAI - 22 JUNIE 2023
DIS HOE ONS
TRAWL! - MEI 2023
DEEL 2
Die musiek is swaar, maar so ook die
skeppe vis, met purse-drade wat kreun, terwyl die trawlkampioene
amok maak onder die skole ansjovis buitekant Shelly Point en
Bobbejaansberg gedurende Mei-maand 2023.
HOUTBAAI
- 15 MEI 2023
DIS
HOE ONS TRAWL! - MEI 2023
Trawler Heritage is bewus van die feit
dat hierdie webwerf daagliks deur talle kleuters en laerskool
kinders besoek word, omrede dat hulle wil net skuite wil sien!
So, moet dus nie verbaas wees as die kleingoed na afloop van
hierdie video gaan sê "ma, pa, ek wil eendag gaan trawl". In
die video hieronder word die room van ons pelagiese vloot
uitgebeeld vanwaar die trawlkampioene amok maak onder skole
pelagiese vis wat oor die afgelope paar dae langs ons kuslyn
gevang was. Trawler Heritage het al telkens gewonder of dit ooit
moontlik sou wees om 'n trawlskuit video te skep op die maat van
"heavy metal" musiek? Gegewe die inhoud van die video hieronder,
dink ek daardie vraag het hom sommer self beantwoord. Sit aan
die klank, draai die volume oop, en speel dit met trots! Tot 'n
volgende keer, stywe lyne en vol nette!
HOUTBAAI - 29 MAART 2023
SANDY POINT & HOUTBAAI
30 JANUARIE & 1 FEBRUARIE 2023
HOUTBAAI - 11 FEBRUARIE 2023
"OCEANA
CONCORDE" 2003 - 2023*
In die video
hieronder bring ons hulde aan nog een van ons getroue stryd-osse
in die vloot - "Oceana Concorde". Dit is maar nou so dat orals
waar Trawler Heritage gaan, daar is "Concorde", en orals waar
"Concorde" gaan, daar is Trawler Heritage. Hieronder word
"Oceana Concorde" uitgebeeld oor die afgelope twintig seisoene,
vanaf 2003 tot en met 2023.
HOUTBAAI - 24 FEBRUARIE 2023
HOUTBAAI - 3 MAART 2023
|
"ATLANTIC ENTERPRISE"
DIE
VISSERMANNE SE TROTS!
In die video hieronder vervaardig
deur Weskaap Aktueel, word die harde realiteit van 'n pelagiese
visserman uitgebeeld wanneer 'n skuit vir maande lank
buite aksie is weens masjienerie wat onverwags onklaar raak gedurende
die visvangseisoen.
|
GOOD-LUCK
"UMLUNGISI"!
Afgeneem hieronder is Irvin &
Johnson se nuutste sleeptreiler genaamd "Umlungisi" wat op 24
Oktober 2024 Suid-Afrikaanse gebiedswaters binne gevaar het
tydens haar afleweringsvaart, en tot tyd en wyl net buitekant
die VTS van Tafelbaaihawe sal vertoef voordat sy op 25
Oktober die hawe sal binnevaar. Die 213-voet "Umlungisi" is
afkomstig van Ysland, en is gedurende 1988 deur Sterkorder in
Noorweë gebou.


Hierbo op 24 Oktober
2024 soos gesien op AIS kom "Umlungisi" aan oorkant 16-myl
strand...Sou mens "Umlungisi" se AIS sein interpreteer, beteken
dit dat "Umlungisi" anker sleep teen 11.9 knope... Nee wat, gaan
laai maar daai skuit se AIS af daar by Radio Holland sodra julle
voet aan wal sit...
Afgeneem hieronder op 24 Oktober 2024 aan die suid-weste
kant van Robbeneiland kom "Umlungisi" aan, terwyl Trawler
Heritage se kamera mik en druk en hoop vir die beste skoot, wat
na alle waarskynlikheid die heel eerste foto is wat geneem was
van die nuwe skuit in Suid-Afrikaanse gebiedswaters. Dis egter
iets waarop Trawler Heritage slegs aanspraak kan maak, indien
een van "Lisa-Ann" se crewmanne nie dalk/moontlik/miskien ook 'n
foto van die skuit geneem het nie, wat op daardie oomblik in 'n
posisie was veel nader aan die "Umlungisi"...

|
SPAR LONG LIFE MELK - DIE
PELAGIESE VISSERMAN SE
KEUSE VIR "BLOCKOUTS"!

Nee gits mense, daar is
niks so irriterend as om die hele nag op die see te werk, in die
bonks te klim, en dan wakker gemaak te word deur 'n
sonstraaltjie wat ongevraagd deur die port hole skyn, en jou
hier reg onder jou neus kielie nie! Dit blyk toe wel asof die
crewmanne van "Samrock" en "Annabelle Rose" wel 'n "blockout"
oplossing vir hierdie probleem gekry het! Spar Long Life
kartonhouertjies bied toe al die tyd die antwoord, soos gesien
kan word in die port holes van beide skuite. En wat's meer, jy
kry selfs 6 liter lang lewe melk daarby saam (hang seker net af
wat jy in die eerste plek wou koop - melk of 'n blockout), vir
net R120.99 by jou naaste Spar op die dorp!
"ANNABELLE ROSE" PORT HOLES

"SAMROCK" PORT HOLES

|
DIE SKUIT-TOILET UPDATE
Reg mense, dis weer tyd om
nader te sit om te kyk wat aangaan in die onder-wêreld van skuit-toilette.
Afgeneem hieronder op 4 Oktober 2024 in Saldanhabaai beloer ons
die skuit-toilet van "Vlaeberg" van naderby. Vir diegene wat nog
vir oulaas wil gaan sit op hierdie toilet moet gaan sit, en sommer
klaar sit, vanwaar die skuit tans gesloop word. Oudergewoonte,
teen die tyd dat die skuit plat geslaan is, sal net die skuit-toilet
nog ongeskonde die aanslag van vyf-pond hammers en kettingsae
oorleef. Tot 'n volgende keer skuit-skuit, my storie is uit.
|
ONS GROET VIR "ROOIBERG"
Hiermee moet Trawler Heritage
slegte nuus met die crew deel dat "Rooiberg", 'n voormalige
stokvislanglyn skuit van Houtbaai ook die stryd teen die
kettingsae verloor het, vanwaar die skuit op Houtbaai se
skeepshelling gesloop is. Afgeneem hieronder op 26 Oktober 2024
lê die laaste oorblyfsels van "Rooiberg" op die kaai, terwyl die
skuit se wielhuis daar eenkant verlore staan.
"ROOIBERG" SE PLANKE OP DIE KAAI

"ROOIBERG" SE WIELHUIS STAAN VERLATE

Ons groet jou "Rooiberg", maar al wat Trawler Heritage weet,
is dat ons nooit weer 'n skuit in ons visbedryf sal hê genaamd "Rooiberg"
nie - ons het skynbaar heeltemal vergeet wat dit is om vir ons
skuite mooi, betekenisvolle name te gee. Nie soos vandag wanneer
die skuit van die blokke afgaan, vernoem na iets wat geneem is
uit die een of ander inheemse taal, waarvan niemand die vaagste
benul het wat dit beteken nie. En vra jy vir die man wat hierso
langs jou staan, uit wie se moedertaal daardie skuit vernoem is,
kyk hy jou vraend aan en antwoord terug..."jammer meneer, ek het
geen idee wat daardie woord beteken nie". So wie probeer ons dus
beindruk? Dalk net 'n rookskerm, of miskien eerder gatkruip? Ek
wonder maar net...
|
"EMERALD ISLE", WAAR IS JOU
RADARS?
Afgeneem hieronder op 26
Oktober 2024 in Houtbaai het beide "Emerald Isle" se Furuno
radars hulle skynbaar uit die voete gemaak...dis net die kaal
drade wat nog daar hang, dit vertel alreeds die hele storie.

"EMERALD ISLE"

Gegewe die huidige
kondisie van "Emerald Isle" reken Trawler Heritage dat dit nou
nie meer lank gaan wees voordat "Star Crest" of "Wildekus" die
opdrag gaan kry om vir "Emerald Isle" na Saldanhabaai te sleep,
vanwaar die "cutting torches" die res van die werk gaan doen nie.
O'ja, en daai "Khoe-Rasi" skuitjie wat daar langs "Emerald Isle"
lê...wil julle haar nie groot asseblief agter "Emerald Isle"
teen die kaai gaan vasmaak nie? Daar is alreeds 'n groot tekort
aan voldoende lê-plek in Houtbaai, en daar waar julle skuit nou
lê, kan ten minste nog vyf staalskuite kom vasmaak langs
"Emerald Isle". Konsiderasie vir ander vissermanne is aan die
orde van die dag, veral as jou skuit net "idle" en doelloos
rondlê in Houtbaai.
|
HOUTBAAI YSTORING VERGAAN
Afgeneem hieronder op 26
Oktober 2024 in Houtbaai is die jongste stand van sake aangaande
die kondisie van die ystoring wat na die afgelope winterstorms
feitlik uitmekaar gewaai is...

|
EERTYDSE TROTS VAN
GANSBAAI VERGAAN
Afgeneem hieronder op 26
Oktober 2024 is die treurige gesig om twee van Gansbaai se
eertydse spogskuite naamlik "Edelweiss" en "Merlene" so te sien
vergaan in Houtbaai. Daar bestaan geen woorde in Trawler
Heritage se woordeskat om uit te druk hoe ek voel om hierdie
skuite so te sien lê nie, waarvan Trawler Heritage reeds eenmaal
tydens 'n t.v. onderhoud daarvan melding gemaak het dat "Merlene"
een van die mooiste houtskuite ooit was...met daai "square
whaleback", dubbel houtwielhuis, blou romp met 'n wit strepie deur die bulwark, en daai helder oranje watertenke,
terug in tyd toe oom Henn nog met haar gewerk het.
"MERLENE"

"EDELWEISS"
|
WAT MAAK DIE (DOM) MENSDOM
DAARSO?
Afgeneem hieronder op 26
Oktober 2024 in Houtbaai word daar gepoog om Houtbaai se duine
te rehabiliteer - nie volgens die natuur se wil nie, maar eerder
hoe die mensdom wil hê hoe dit moet wees!(Baie dom).Bestudeer
mens egter eerstydse fotos van Houtbaai uit die vroeë 1900's,
sal mens oplet dat die duine natuurlik, sonder enige plantegroei,
vanuit die see, op teen die berg, anderkant af teen die berg,
tot binne in Sandy Bay ononderbroke die landgebied bedek het.
Dit was 'n natuurlike "sand-migrasie" van honderde jare oud, wat
die natuur self geskep het, wat die mensdom nou wil stop sit.
Stop sit? Dis hier waar die probleme nou gaan begin! Trawler
Heritage maak nou alreeds die voorspelling dat die baai tussen
die hawe se Noordelike breekwater en die huidige strandgebied
met verloop van tyd al vlakker en vlakker gaan word, waarna
Houtbaai se hawe stelselmatig gaan begin toeslik van seesand -
eers vanaf die noordekant van die hawe, en dan stelselmatig gaan
dit uitbrei na die suidekant van die hawe. Die mensdom gaan dan
(soos gewoonlik) met allerlei verskonings en teorië vorendag oor
hoekom dit gebeur het - met klimaatsverandering wat die grootste
skuld gaan kry (dom wetters). Feit van die saak is, die
suid-oostewind wat die hele sand-migrasie patroon aan die gang
sit, gaan nooit ophou waai nie - Houtbaai, julle weet nie wat
julle doen nie! Trawler Heritage het julle gewaarsku.

Aangetoon hieronder is hoe Houtbaai daarna uitgesien het
gedurende die laat 1970's, terwyl die rooi pyltjie die
natuurlike seesand migrasiepatroon aandui vanuit die baai van
Houtbaai, al rondom die berg tot binne-in Kaalgatbaai. 'n
Eeue-oue migrasie patroon wat die dom mensdom nou gaan poog om
te stuit...
good-luck vir julle!

|
ONS VISSERSHAWENS
WORD GEPLUNDER
Afgeneem hieronder op 19
Julie 2024 in Sandy Point hawe is hoe die gewese Umoya
kreefabriek in die hawegebied tans daarna uitsien nadat die
fabriek deur vandale geplunder is, met lugversorgingseenhede,
gebreekte vensters, deure wat uit kosyne geruk is, sowel as
vensterrame uit die mure geruk is, en weg gedra is. Hoe is dit
moontlik dat sulke tipe gedrag in ons vissershawens toegelaat
kan word, terwyl broodnodige infrastruktuur voor die voet
vernietig word? Wat het geword van basiese menslikheid en respek
vir ander se eiendom? Eerder bloot net 'n gebrek aan
selfdisipline en die verwerping van Christelike beginsels as jy
my sou vra.


Onder hierdie einste koelteboom op die grasperk (toe daar nog 'n
grasperk was) het ons soveel kere voor ons see toe gegaan het,
BP Marine se vis & chips gesit en geniet...nou is die gras ook
sommer dood.

Afgeneem hieronder op 17 Oktober 2024 in Saldanhabaai hawe is
hoe die eens statige satelliet kantoor van Globe Engineering
tans daarna uitsien - wat 'n skande! Hierdie kantoorgebou was
slegs 'n paar jaar gelede nog aktief gewees, netjies omhein,
kompleet met 'n groen grasperk en pynlike netjies blomtuine
daarby. Daar was 'n plaashek met plaveide oprit en skadu-net
parkering langs die kantoorgebou gewees. Vandag is alles weg,
dis kaal en tot op die grond toe leeg gesteel en geplunder na
willekeur, dit alles op kamstige staatsgronde - 'n direkte
weerspiëling van 'n regering wat benewens sy eie gewin, geen maar
soos in geen begrip of verstand het hoe om 'n vissershawe, wat
te sê nog Suid-Afrika, op 'n regmatige, volhoubare manier te kan
bestuur nie.

|
HOU ONS
SKEEPSHELLINGS SKOON
Met die pelagiese
afseisoen nou in volle swang raak dit weer tyd om die skuite
slip toe te stuur, en tydens die gewewe afgelope tunapaal
afseisoen, het Trawler Heritage op 'n hele paar "horror scenes"
afgekom op ons skeepshellings. Tydens daardie insidente wanneer
iemand per ongeluk 'n blik verf of resin omstamp op die
skeepshelling, wend ten minste net 'n poging aan om dit skoon te
maak. Sou sekerlik moet julle darem 'n paar lappe, thinners en
acetone byderhand hê. So nie, kom trap 'n ander man
niksvermoedend in jou gemors, en kort voor lank is dit nie net
die wielhuis se matte wat vol verf is nie, maar die bakkie se
vloermatjies die lot! Dis seker goed en wel as jy wag totdat jou
skuit twee ton mossels gekweek het onder die romp voordat die
skuit slip toe gaan, maar sekerlik het jy darem 'n skopgraaf (of
twee) en 'n besem op die skuit waarmee jy al die swart mossels
en skulpies van die betonblad kan opskep en verwyder van die
perseel nadat die hoëdruk-spuite hul werk gedoen het. Nou kry jy
ongelukkig manne wat alles net so agter laat en hulself uit die
voete maak. Teen die tyd dat dit jou beurt is om slip toe te
gaan is die slip grasgroen...nie groen van seegras nie, maar wel
van brommers wat feesvier op al die verrotte swart mossels en
skulpies wat op die slip se beton lê en vrot - Asof dit alreeds
nie genoeg is dat die blindevlieë jou ook nog bykom nie. En dan
is daar ook nog die longline manne wie se shafts so opdraai in
die toplines en filament lyne...hulle sny dit af en laat dit net
so agter op die slip...maak skoon en vat weg die gemors - hier
is immers niemand wat agter julle gaan kom skoon maak nie!
Afgeneem hieronder is 'n tipiese geval waar 'n skuit met twee
ton mossels aan die romp wag om skoon gespuit te word...vergeet
die swartmossels! Gou, hardloop! Kry die galjoenvis-emmertjies,
kyk net hoe hang die rooi-aas koppe aan daai skuit!

|
"ASTERIX"
BLOKKEER
DIE SLIPKAAI
Nee gits, die "Asterix" is gedurende 2023
omgesleep en laat sink agter die voormalige fabriek van
Plettenberg Bay Fishing in die Houtbaai hawegebied, vanwaar die
skuit nou weer terug gesleep is na die Slipkaai, en alweer
toegelaat is om te sink weens 'n totale gebrek aan voldoende
bestuur, basiese intelligensie en menslikheid, soos uitgebeeld
in die foto hieronder wat op 26 Oktober 2024 geneem is. Hierby
saam verhoed die "Asterix" se agterstewe, wat verby die kaai se
hoek steek, dat enige van die groter skuite in die vloot van die
Slipkaai gebruik kan maak, in 'n hawe waar daar alreeds 'n
tekort is aan voldoende lê-plek.
"ASTERIX" GESINK LANGS SLIPKAAI

Geneem vanuit die Trawler Heritage argief hieronder, is 'n
voorbeeld waar daar nou rêrig 'n groot skuit (in die geval "Adenia")
van Slipkaai gebruik maak, bloot net omdat daar nie ander
lê-plek beskikbaar was nie. Voortaan kan "Adenia" dus maar
vergeet om hierso langs Slipkaai te kom lê, weens die
teenwoordigheid van "Asterix" se romp wat verby die kaai se hoek
steek. Net hier agter, langs "Emerald Isle" kan mens ook nie lê
nie, weens "Khoe-Rasi" se teenwoordigheid. So, met wat laat dit
'n man oor? Jy moet uit die hawe loop en gaan anker afgooi in
die baai, en instede daarvan om jou crew ruskans te gee, moet jy
mense wakker hou, en op "watch" laat staan - dis een groot
gemors, hierdie Houtbaai!
"ADENIA" LANGS SLIPKAAI
|
TALLIE MARINE LAAT NUWE
LONGLINER TER WATER
GOOD-LUCK "BALANCE 2"
Afgeneem hieronder op 11
November 2024 langs die Tallie Marine kaai in Sandy Point is die
"Balance 2", die nuutste 76-voet tuna longliner wat deur die
skeepswerf te water gelaat is, wat haar eersdaag by die Houtbaai
vloot sal aansluit. Alhoewel haar lyne en boustyle dalk so
ietwat vreemd voorkom, is daar baie tyd aan die fyner details
aanboord van die skuit bestee, wat Trawler Heritage op 'n latere
stadium aan die crew sal uitwys.


|
.
|
'n GEBED VIR PELAGIESE
VIS
Heer,
hierby vra ons dat u die trotste pelagiese vloot ter wêreld sal seën met 'n
oorvloed pelagiese vis gedurende die 2025 seisoen. Hou asseblief u veilige hand
oor die vloot, vissermanne, fabriekspersoneel en die wat die kosmandjies
voorberei ten einde arbeid te kan verrig. Doen asseblief iets hier onder die
vissermanne wat vir U koningkryk 'n getuienis sal wees. Amen.

NUWE OPDATERING
NOU BESKIKBAAR
Môre-môre, ek vertrou dit gaan nog goed met die crew. In die jongste uitgawe
wat uit meer as 250 fotos asook 2 musiek videos bestaan,
loop ons die kuslyn plat van sowat 18 myl die see in buitekant die
Olifantsriviermonding, verby Laaiplek en Sandy Point. Op Tietiesbaai haak ons
bikini toppies uit, en gly verby die Kaapse dokke, om na Kaalgatbaai, binnekant
die Knol deur, in by Houtbaai, en vat koers Kalkbaai toe, dan om na Gansbaai, en
dan weer soos die kraai vlieg tot by Mosselbaai en al verder oos tot by
St.Francisbaai.
Met die jaar wat nog skaars begin het,
gaan ondersoekbeamptes (dis nou die manne met die groen oorpakke) sekerlik
heelwat oortyd moet insit en hul "travel allowances" tot die maksimum benut om
aandag aan al die insidente om die kuslyn te gee. Wat hul gevolgtrekkings gaan
wees, en wat ons daaruit gaan leer, en watter addisionele veiligheidsmaatreëls
nog in plek gestel gaan word, sal net die tyd leer.
Die 2025 pelagiese seisoen alreeds goed op dreef met uitstekende rooi-oog
vangste ver in die noorde. Dis egter met die "vloot in suide" waar dinge net nie
wil gebeur nie, ook g'n wonder dat twee "ganse" gedurende die afseisoen hul
penvere laat groei het, en die trop verlaat het in hul soeke na groener weivelde,
terwyl die res van die trop se vere kort geknip is.
In hierdie uitgawe gaan die crew dalk so
bietjie van 'n "Bella Prima" oordosis kry, maar dis ongelukkig nou maar 'n
Gansbaai-ding hierdie. Trawler Heritage kan nie anders nie as om hulde te bring
aan hierdie geliefde skuit nie. En tog, sou Louw & Halvorsen junior, ooit
besluit om 'n replika van "Bella Prima" te bou, sal die skuit nie in haar "DDF-era"
uitgebeeld word nie, maar eerder in haar Suid-Oranje kleurskema, met 'n hok op
die voorste maspaal, met twee hangblokke, een voor en een agter, terug in tyd toe
oom Fernie nog met haar gewerk het - daai was nog die regte "Bella Prima"
gewees.
Tot volgende keer, vrede.
NUUTSTE VIDEO OP DIE
KANAAL VAN TRAWLKAMPIOENE
IETS VAN ALLES
OKTOBER
'24 - FEBRUARIE '25
In die video hieronder
word nie net die room van die Suid-Afrikaanse visbedryf
uitgebeeld nie, maar ook hoe vinnig die noodlot kan toeslaan op
die see. Die video word afgesluit met 'n argief video van "Bella
Prima", waar sy vir oulaas die Trawler Heritage crew groet.
|
VIR "BELLA PRIMA"
1968-2025
Nou ja mense, hoe neem mens
afskeid van 'n skuit wat deel was van jou lewe oor soveel jare
heen? In die video hieronder bring Trawler Heritage vir oulaas
hulde aan een van die gedugste strydosse ooit, wat in diens was
van die Suid-Afrikaanse pelagiese bedryf. Ons gaan jou mis
"Bella Prima".
|
LANK LEWE DIE TRADISIE
VAN LAMBERTS
BAY CANNING!
Jislaaik mense, Trawler Heritage het lanklaas
so 'n mooi gesig gesien soos hierdie een wat afgeneem is op 7
Januarie 2025 in Houtbaai van die "Bressa" se nuwe kleurskema.
Mens kan kyk, en weer kyk, en tog is dat asof iemand die tyd
terug gedraai het na 1960 toe, om 'n houtskuit te sien (sonder
'n whaleback) in die kleure van Lamberts Bay Canning. Welgedaan
aan ieder en 'n elk wat betrokke was by hierdie idee om vir "Bressa"
'n nuwe baadjie aan te trek.
"NUWE" KLEURSKEMA

"OU" KLEURSKEMA

|
NUWE
KLEURSKEMA
VIR "ADELETTE"
Afgeneem hieronder op 12
Januarie 2025 in Saldanhabaai vertoon die stokvislanglynskuit "Adelette"
nou 'n nuwe blou kleurskema vanwaar die skuit voorheen 'n grys
kleurskema vertoon het.
"NUWE" KLEURSKEMA

"OU" KLEURSKEMA

|
NUWE KLEURSKEMA VIR "IRMA"
Afgeneem hieronder op 21
Desember 2024 op die Saldanhabaaiskeepshelling vertoon die
akwakultuurskuit "Irma" nou 'n nuwe ligblou kleurskema vanwaar
die skuit voorheen 'n donkerblou kleurskema vertoon het.
"NUWE" KLEURSKEMA

"OU" KLEURSKEMA

|
"ILOVANE" KEER OM
Afgeneem hieronder op 27
Januarie 2025 buitekant St.Francisbaai lê die omgekeerde
lynvisskuit "Ilovane", 'n 30-voet Sachal romp, nadat 'n
fratsbrander oor die agterstewe gebreek het en die skuit
omgeslaan het. Die "Ilovane" het egter vlot gebly, en is na die
St.Francisbaai hawe gesleep vanwaar die skuit weer regop getrek
is.

Afgeneem hieronder op 29
Januarie 2025 in St.Francisbaai hawe word die "Ilovane"met
behulp van 'n mobiele huiskraan weer regop getrek.

|
"NOSSOB" STAMP HAAR
KOP OOP
Laaiplek se hawe is dalk nie die maklikste hawe te navigeer nie,
alhoewel die hawe 'n baie veilige skuiling bied aan skuite
gedurende die wintermaande. Wanneer die huidige regering, onder
aanvoering van Departement Publieke Werke, ooit ag daarop sal
slaan om fondse daar te stel om weer die hawe ordentlik oop te
bagger kan mens maar net oor wonder. Die gepaardgaande stroom in
die passasie het al menigte skippers 'n koue sweet gegee, terwyl
botsings met Laaiplek se mure en kaaie al telkemale in die
verlede plaas gevind het. Dit het nou weer gebeur, en dit sal in
die toekoms weer gebeur. As jy jouself met die uitgaande stroom
misgis, kan jy jouself baie vinnig in die moeilikheid kry, om
nie eens te praat van die vlak sandbanke nie. Afgeneem hieronder
op 3 Februarie 2025 op Laaiplek is hoe "Nossob" tans daarna
uitsien, vanwaar mens dwarsdeur die skuit kan sien tot teenaan
die voorste partition. Dit gaan egter maande se oplê kos voordat
die skuit weer see toe sal kan gaan. Alles behalwe wat 'n man
nou nodig het, hier reg aan die begin van die seisoen.

Dis darem vreemd hoe vinnig die "landrotte" op die
knoppies is wanneer die nuus breek van 'n maritieme insident. Ek
meen, daar gebeur sekerlik tientalle motorongeluk insidente
daagliks op ons paaie waarvan niemand eers melding van maak nie.
Hierso reverse iemand 'n paaltjie om, daar ry 'n man oor 'n
tuinmuurtjie, hier rol 'n voertuig, fender bender hier en ja,
soms jaag hulle selfs bo van die hawemure af, die water in. Maak
jy nou net die geringste foutjie met jou skuit, dan is die "landrotte"
vinnig om jou te verneder, dieselfde wetters wat vanaand by die
KFC instap, en môreoggend melk in sy koffie wil hê, en onder die
indruk verkeer dat dit alles van die plaas afkom - vanwaar
daardie tipe voedsel se spoor oorspronklik vanuit die see kom -
geoes met visserman arbeid.
|
DIE 2024
PELAGIESE AFSEISOEN
Reg mense, hier volg die laaste opdatering aangaande die 2024
pelagiese afseisoen, van hier af vorentoe moet daar weer vis
gevang word.
DIE SWAAIBLOKKE EN DIE STACKERS KOM AF
Afgeneem hieronder op 14
Oktober 2024 in Gansbaai is die sardynskuit "Sagax" te siene
sonder haar swaaiblok soos aangetoon met die rooi sirkel.

Afgeneem hieronder op 11
November 2024 by Suid-Oranje is "Lisa Ann" te siene sonder haar
stacker soos aangetoon met die rooi sirkel.

Afgeneem hieronder op 1
Desember 2024 in Saldanhabaai is die "spool" van "Boetie Akie"
se stacker verwyder vir herstelwerk.

AAI OU "STAR CREST", HULLE GAAN
DIT NOOIT REG KRY NIE!
Afgeneem hieronder op 21
Desember 2024 op die Saldanhabaai skeepshelling toon die rooi
sirkel aan dat die (dom) skuitverwers alweer die eerstydse
areakode van Peterhead (PD) in Skotland op "Star Crest" se kop
geverf het, wat inderwaarheid geen betekenis meer het nie.

"SETTE MARI" WORD MOOI GEMAAK
Afgeneem hieronder op 1
Desember 2024 in Saldanhabaai vertoon "Sette Mari" maar taamlik
rof na afloop van die pelagiese seisoen. Aag wat, niks wat 'n
blik verf nie weer kan mooi maak nie.

Afgeneem hieronder op 21
Desember 2024 op die Saldanhabaai skeepshelling blink "Sette
Mari" weer in die warm Weskus son, gereed om die nuwe seisoen
aan te durf.

MANNETJIE-GUARD 2.0 VIR "RESTLESS WAVE"
Afgeneem hieronder op 21
Desember 2024 in Saldanhabaai vertoon "Restless Wave" nou 'n
addisionele toevoeging tot haar mannetjie-guard soos aangetoon
met die rooi sirkel.

Afgeneem hieronder op 11
November 2024 in Laaiplek vertoon "Terrasan 1" haar letsels van
oorlog na afloop van die 2024 pelagiese seisoen met mannetjie-guard
version 3.0. Soos voorspel deur Trawler Heritage moes die
mannetjie-guard meer vorentoe gesit het (boeg se kant toe).
Gegewe die skaafmerke op die romp kan julle nou presies sien wat
Trawler Heritage vir julle probeer verduidelik het. Vergelyk nou
die posisie van "Restless Wave" se nuut aangehegde mannetjie-guard,
met "Terrasan 1" se skaafmerke, en mens moet erken dat "Restless
Wave" se mannetjie-guard op presies die korrekte posisie
gemonteer is.
MANNETJIE-GUARD 3.0 OP "TERRASAN 1"

|
NUWE ROEPLETTERS VIR
"JACQUELINE"
Afgeneem hieronder op 9
Januarie 2025 in Saldanhabaai vertoon die tunapaalskuit
"Jacqueline" nou 'n nuwe roepletter ZR9169 soos aangedui met die
rooi sirkel. Voorheen het "Jacqueline" die roepletters ZR5687
vertoon.

|
AS DIE ENGELSE SE
HAWEMURE
BEGIN TE KRAAK...
Die opskrif hierbo het niks te make met een
van Siener van Rensburg se voorspellings nie, dis egter toe
Trawler Heritage op hierdie foto afkom, van een van Engeland se
hawemure wat mors-af gebreek het, dat dit my herhinner aan
Gansbaai se Ouhawe, waar die kortmuur ook feitlik middeldeur
gekraak is, maar tog wonderbaarlik nog staande bly...

Aangetoon met die rooi sirkel hieronder
is die gekraakte hawemuur in die Gansbaai Ouhawe. Trawler
Heritage het reeds by 'n vorige geleentheid melding gemaak van
hierdie "tydbom" wat wag om te gebeur. Die dag as daardie
hawemuur die aanslag van die noordweste weer gaan verloor en
losbreek, gaan die hele visbedryf op Gansbaai tot 'n skielike
stilstand kom...

Dalk, moontlik, miskien gaan ons nog o'raait wees
met
daai muur, maar vir hoe lank?
|
NUUTSTE TOEVOEGING
TOT STOKVISVLOOT
GOOD-LUCK "SANTO DO MAR"!
Afgeneem hieronder op 15
Januarie 2025 in die Kaapse dokke is die 164-voet "Santo Do
Mar", die nuutste toevoeging tot die Suid-Afrikaanse
stokvisvloot, nadat die skuit vroeër gedurende die dag in
Kaapstad aangekom het vanaf Marin in Spanje, op haar
afleweringsvaart.
"SANTO DO MAR"

Intussen tyd hang Trawler Heritage nog half-lyf by die
wielhuisvenster uit en staar op na die skuit se mas, waar 'n
duikertjie wil-wil maak asof hy op die dek wil skyt, in
afwagting om te hoor of die Walvisbaaier, "Poble De Campello"
nou deel gaan raak van die Suid-Afrikaanse treilvloot of nie?...
|
9 JANUARIE 2025
DIE DAG WAAROP
HOUTBAAI SE
VISBEDRYF STERF
9 Januarie 2025
omstreeks 12:55 nm. sal in die anale van die Suid-Afrikaanse
visbedryf aangeteken word as die datum en tyd waarop die
visbedryf in Houtbaai finaal gesterf het.
In afwagting vir die kreefvloot om terug te keer huis toe, het
Trawler Heritage ouder gewoonte stelling ingeneem by sy geliefde
lighuisie op die Houtbaai langmuur en die seemyle geduldig af
getel in afwagting vir die kreefvloot se terugvaart. Weens die
algehele afsondering en kalmte van die res van die wêreld, het
Trawler Heritage net daar op die kaai gaan sit, met gebuigde
hoof en 'n diep gesprek met ons Here God aangeknoop waartydens
ek Hom gevra en gesmeek het om ons pelagiese vloot te seën
tydens die 2025 seisoen. My gesprek met God is egter
geonderbreek deur "gangster-stemme" - en meteens staan daar twee
manne voor my met lang messe, gereed om my leed aan te doen.
Hulle eis R100 van my, maar benewens my kriekethoed en my
mik-en-druk kamera het ek geen geld op my nie, nie eens 'n
beursie nie. Met my kaal hande weer ek hulle aanslae keer op
keer af, omring deur seewater links, regs en agter my, totdat
daar 'n seiljag by die hawe se bek verby loop...die skipper en
sy bemanning se oê is stip op die insident gerig en met 'n
bulder stem roep die skipper uit "hold on, I am radio in the
police"! Die aanvallers se aandag word vir 'n oomblik afgetrek
en Trawler Heritage sien die kans en breek deur hulle. Gelukkig
is die jeug en fiksheid nog aan Trawler Heritage se kant en daar
laat waai ek af al langs die langmuur na veiligheid gevolg deur
die twee aanvallers, terwyl die seiljag se skipper net daar in
die hawe se bek 'n "u-turn" maak en al langs die langmuur afseil
in 'n poging om my te beskerm, agter-om die yskaai, verby die
slipkaai, en daar waar Da Gama se aflaaipompe eens gestaan het, het
Trawler Heritage en die seiljag se paaie weer geskei, waarna die
seiljag weer koers gevat het see toe. My grootste dank aan
daardie seiljag om in 'n oomblik van angs my te vergesel het na
veiligheid.
Om te dink dat mens nie eens meer veilig is om in die openbaar
tot jou Here God te mag bid nie, sonder om te vrees vir jou lewe
nie - mag ons Here God hulle van die aarde af wegvee en nooit
weer aan hulle dink nie, en sou God sy toorn oor Houtbaai
loslaat gaan daardie plek tot in sy fondamente geskud word - vir
hul totale barbaarse optrede deur 'n man aan te val terwyl hy op
die kaai gesit en bid het tot sy Here God en Hom gevra het vir
vis. En hiermee groet Trawler Heritage dan ook vir Houtbaai,
niemand het voor my ooit die moeite gedoen om die ryk
geskiedenis van Houtbaai se visbedryf aan te teken en te verfilm
tot in die mate waarin Trawler Heritage dit vermag het nie, en
na Trawler Heritage sal daar ook niemand weer wees nie. Ou
Houtbaai, al wat ek vir jou kan sê, is ek is nou klaar met jou -
jy en jou visbedryf het nou finaal gesterf!

Houtbaai se lighuisie op die langmuur - die plek waar
Trawler Heritage aangeval is terwyl hy op die kaai gesit en bid
het vir vis op 9 Januarie 2025.
|
DIE PELAGIESE AFSEISOEN
BREEK AAN
Die 2024 pelagiese afseisoen
is nou in volle swang, met verfkwaste, grinders, sweismasjiene,
hoëdrukspuite, mobiele hyskrane en skuite wat op die
skeepshellings staan. Afgeneem hieronder op 11 November 2024
staan "Antonie W II" op die Sandy Point skeepshelling, slegs
oomblikke nadat die skuit se romp deur hoëdrukspuite skoon
gespuit was ter voorbereiding vir 'n skoon laag verf.

Afgeneem hieronder op 11 November 2024 word "Oceana
Concorde" versien op die Keyway Shipwright skeepshelling op
Laaiplek.

Afgeneem hieronder op 11 November 2024 in Sandy Point word
"Restless Wave" se romp afgeskuur ter voorbereiding vir 'n skoon
laag verf. Die man hier in die voorgrond vat 'n kort ruskansie -
sy arms was maar taamlik lam van "sander" vashou...

Afgeneem hieronder op 26 Oktober 2024 op die Saldanhabaai
skeepshelling word "Vegkop" (voor) en "Hesko" (agter) voorberei
vir die 2025 pelagiese seisoen.

|
NUWE KLEURSKEMA VIR
"HIGHLAND QUEEN"
Trawler heritage het die crew
nog onlangs aangeraai om die zolle byderhand te hou vir wanneer
"Highland Queen" se nuwe kleurskema vertoon gaan word. Afgeneem hieronder op
11 November 2024 in Sandy Point hawe is die "Highland Queen" nou
te siene in haar nuwe rastafariese kleurskema, vanwaar die skuit
nou ontslae geraak het van haar tradisionele wit-en-swart
kleurskema wat nog terugdateer uit haar dae by Walcano in
Walvisbaai. So, wat is Trawler Heritage se indrukke van die nuwe
kleurskema? Nee wat mense, kom ons vat maar 'n diep teug, blaas
dit uit, en kom laat ons aanbeweeg na die volgende brokkie nuus...hoes-hoes.
"NUWE" KLEURSKEMA

"OU" KLEURSKEMA

|
"RENJA" TREE OP AS
LOODSVAARTUIG
Afgeneem hieronder op 11
November 2024 word die Kaapse tunapaalskuit "Amalia" vanuit
Saldanhabaai hawe begelei deur die "Renja", wat die rol vertolk
het as loodsvaartuig vanwaar "Amalia" op daardie oomblik nie oor
die nodige pilot exemption beskik het nie.

Dis
ook nie aldag dat jy oomblikke soos hierdie
sien waar Caterpillar vir Cummins so eerbiedig nie... |
"ANNA" BREEK OP
Afgeneem hieronder op 11 November 2024 in
Sandy Point hawe is hoe die gedisintegreerde romp van die
voormalige sardynskuit "Anna" tans daarna uitsien, nadat die
hele dekstruktuur los gebreek het van die res van die romp, en
die whaleback weer op sy beurt los gebreek het van die bulwark
struktuur.

|
VANGS VAN DIE DAG
Afgeneem hieronder op 11
Oktober 2024 is die plaaslike kelpvloot van Gansbaai in aksie
vanwaar nog 'n vars gesnyde vrag bamboes die Gansbaai Ouhawe in
gebring word vir aanwending in die vervaardiging van organiese
bemestingstowwe.

Afgeneem hieronder op 11 Oktober 2024 arriveer die
lynvisskuit "Piranha" in Sandy Point hawe met snoek aanboord.

|
WANNEER HOUTSKUITE
KANKER KRY
Trawler Heritage gaan hierdie skuit se
identiteit eerder anoniem hou wat onlangs op 'n skeepshelling
aangetref is, waarvan die glasveselbedekking oor die "horn
timber" verwyder is, en met die "kanker" daar
agter wat nou oop en bloot sit!

Houtskuite wie se planke gedeeltelik (doelbewus) met staalplate
en glasvesel bedek word, en hoe sommige surveyors dit goed vind
en ander nie, is iets wat Trawler Heritage nog nooit rêrig kon
verstaan het nie. Elke keer wanneer Trawler Heritage 'n
houtskuit sien waarvan die planke met staal of glasvesel
oorgetrek is, laat dit my terugdink aan die 1989 pelagiese
seisoen op Gansbaai. Nou ja, oom Lukas is nou ook nie meer met
ons nie, maar dit gaan toe "Oom Piet" haar by die "ganse"
aangesluit het. "Oom Piet" se hele agterstewe was bedek gewees
met een moerse (mooi gestel) staalplaat, wat van port side,
reg-om die skuit se gat, tot op starboard geloop het. Daardie
staalplaat het immers saam met die skuit van Lambertsbaai gekom,
en sy was ook nie die enigste Lambertsbaai skuit gewees nie, "Kathleen
Louise", "Alan Lees", "Paul" noem maar op, het almal daai einste
staalplaatbedekkings oor hul agterstewes gehad. Dis egter toe
die surveyor op Gansbaai kom, en weier om "Oom Piet" se
seewaardigheidssertifikaat uit te reik, alvorens daardie plaat
op die skuit se gat nie permanent verwyder word nie! Einde ten
laaste het die plaaslike shipwright op die dorp, oom Jan
Lottering die plaat verwyder en die skuit se gat oorgeplank,
sonder dat "Oom Piet" weer ooit 'n plaat nodig gehad het. En die
ander Lambertsbaai skuite, mag julle miskien wonder? Wel, om
eerlik te wees het elkeen van daardie eertydse Lambertsbaai
skuite uiteindelik gesink of gesloop gedurende die vroeë 2000's,
met hul plaatbedekkings oor die agterstewes. Die uiteinde van
die storie is dat toe hierdie insident afgespeel het op Gansbaai
was Trawler Heritage nog 'n laerskool laaitie gewees wat dit
moes aanskou het, en van toe af kon ek nog nooit weer 'n
surveyor rêrig vertrou het nie, bloot net op grond van hul
onkonsekwente toepassing van maritieme reëls en regulasies van
een skuit in vergeleke met 'n ander skuit, van een fabriek na 'n
ander fabriek...Wees dus versigtig aangaande jou optrede en wat
jy sê vandag, daar mag dalk net 'n klein seuntjie in die omtrek
wees wat jou dophou, en saam met hom 'n indruk van jou neem vir
die res van sy lewe, ook geen wonder Trawler Heritage stuur so
nou en dan 'n "poskaart" aan SAMSA net om hulle te herhinner aan
hul foute uit die hede en die verlede...
|
"ARMANA" WORD TER
SEE AGTER GELAAT
Afgeneem hieronder op 14
Oktober 2024, sowat 60 myl buitekant Gansbaai borrel daar rook
uit in die enjinkamer van die stokvistreiler "Armana". Al 20
bemanningslede aanboord het die skuit verlaat in life rafts,
waarna hulle opgepik is deur die stokvistreiler "Ludwani",
terwyl 'n mede treiler in die vloot, "Harvest Saldanha" "wag"
gehou het oor die "Armana" tot tyd en wyl 'n sleepboot uit die
Kaapse hawe oppad was na die toneel om die skuit op sleeptou te
neem. Trawler Heritage beklemtoon egter die woordjie "wag" in
die vorige sin. Gegewe die tyd waarin ons, ons tans in bevind,
waar mense maak soos hulle wil met geen respek vir ander se
eiendom nie, kon die "Armana" insident volgens aanvaarde
maritieme praktyke, net sowel ontaard het in 'n "flotsam & jetsam" geval. Gegewe die buitegewone windstil seetoestande wat op
daardie betrokke dag geheers het, kon enige bedrewe skipper wat
weet dat sy bemanning oor bo-gemiddelde
brandbestrydingsvaardighede beskik, sy crew aanboord van "Armana"
laat spring het, die vuur geblus het, hul eie vlag gehys het, en
die skuit was hulle s'n!...Onmoontlik, dalk onmenslik sal
sommiges uitbasuin! Nee, glad nie, al ooit gesien wat gebeur
wanneer 'n "topliner" omkeer op 'n snelweg? Die vragmotor word
summier bestorm deur lewendige wesens, wie weet haar hulle so
gou vandaan kom, die vrag word geplunder en gebuit. Hulle
verdwyn in die niet, en tog lyk dit asof die owerhede nie 'n
dooie duit omgee vir die wanorde nie. Na afloop van die "Armana"
insident het een van ons ministers sy/haar stem laat bulder, dat
SAMSA strenger moet optree teen vissermanne en booteienaars. Dis
duidelik dat hierdie minister deel vorm van die uitgelese 101.9%
van die populasie wat geen idee het van wat op die see aangaan
nie. Hoe streng wil julle nog hê moet SAMSA optree, maak nie
saak hoeveel reëls en regulasies daar in plek gestel word,
ongelukke ter see sal daar altyd wees, en intussen tyd woed die
eeue-oue stryd tussen die see en visserman voort, in sy behoud
om te kan voortbestaan. Siende dat ons nou op hierdie "topic"
is, kom ons wys net gou vir daardie betrokke minister hoe
infrakstruktuur tans in ons hawens daarna uitsien,
infrakstruktuur wat die verantwoordelikheid van die
Suid-Afrikaanse regering is om instand gehou te word, maar wat
kwansuis en doelbewus agterweë gelaat word weens wanbestuur,
korrupsie, gebrek aan kennis en begrip van kommersiële
visvangste, en doodeenvoudig net slapgatgeid. Doen dan eerder
iets sinvol, staan jou man en vereis dat die bevindinge van die
Staatskapingsverslag ter sake gelê word en dat die skuldiges
vasgevat word. Maar nee, nou pik julle op die vissermanne.. los
die vissermanne uit!
"ARMANA" - 14 OKTOBER 2024


Afgeneem hieronder op 19 Julie 2024 is hoe die Regeringskaai op
Laaiplek tans daarna uitsien weens 'n algehele gebrek aan
instandhouding - dis die eiendom asook die verantwoordelikheid
van die Suid-Afrikaanse regering. Kyk hoe lyk dit! Julle vereis
allerlei health & safety regulasies, tickets, nog regulasies op
nog 'n regulasie, terwyl jul eie infrakstruktuur soos 'n varkhok
lyk. Daag daar 'n inspekteur van Departement Mannekrag by die
fabriek op, loop hy verwaand daar rond, terwyl die lug gevul is
met 'n tikkie windgatgeid daarby - want hy mag vir jou sê wat
mag en wat mag nie, dit terwyl as jou fabriek se kaai sou lyk
soos in die foto hieronder, kan jy jou self maar reg maak vir 'n
tydelike sluiting tot tyd en wyl jy jou huis in orde kry, maar
skynbaar geld dieselfde regulasies nie vir die Suid-Afrikaanse
regeringsdepartemente nie. Hoekom nie?
LAAIPLEK REGERINGSKAAI

HOUTBAAI HAWE - LEWENDIGE KRAGDRADE

SANDY POINT REGERINGSKAAI

As daar "grating" op jou fabrieksvloer afwesig is, gaan
jy moeilikheid kry by Departement Mannekrag! Hier is 'n plank
uit die kaai afwesig. Hoekom mag dit so lyk sodra staatseiendom
ter sprake is? Ek vra maar net...
|
DIE
SKUITE GAAN SLIP TOE
Met die 2024 pelagiese
afseisoen nou in volle swang, beloer ons 'n paar skuite wat die
afgelope tyd skeepshellings al langs die kuslyn besoek het.
Afgeneem hieronder op 25 November 2024 het "Stormgans" die
Gansbaai skeepshelling se hekkie oop gemaak, en daardeur
verseker dat sy die ander "ganse" voorgespring het, en terselfde
tyd kon daar ook aandag gegee word aan haar problematiese
side-thruster.

Afgeneem hieronder op 25 November 2024 op Gansbaai lê die
kreefskuit "Atlantic Blessing" in die voorgrond, terwyl "Vleigans"
se net afgetrek word in die agtergrond.

Afgeneem hieronder op 21 November 2024 op die Kaapse
synchroniseerhyser staan die langlynboot "Intrepid", waarvan 'n
gedeelte van enjinkamer se rompplate verwyder is ten einde
toegang tot die enjinkamer te kon verkry. Trawler Heritage kon
nie vasstel presies wat haar pyne is nie, want net op daai
spesifieke oomblik kon niemand wat daar werksaam was Afrikaans,
Engels of selfs gebare taal verstaan nie - geheimsinnigheid op
sy beste, maar gegewe die tydelike oogbout wat bokant die
opening op die romp vasgesweis is, kon mens aflei dat daar 'n
swaar stuk toerusting uit die opening "ge-rig" was.

Afgeneem hieronder op 6 Oktober 2024 op die Keyway Shipwright
skeepshelling op Laaiplek word "Silver Dolphin" voorberei vir
die 2025 pelagiese seisoen.

Somtyds voel dit vir Trawler Heritage asof sommige skuite
dalk net te gereeld op die slip te siene is...seker maar net my
verbeelding?
Afgeneem hieronder op 3 November 2024 op die Saldanhabaai
skeepshelling is "Hesko" te siene in onderlaagverf.

Afgeneem hieronder op 11
November 2024 op Saldanhabaai skeepshelling is dit "Atlantic
Endeavour" se beurt om voorbereidingswerk vir die 2025 pelagiese
seisoen te doen.

Afgeneem hieronder op 26
Oktober 2024 op Saldanhabaai skeepshelling blink die
tunapaalskuit "Amalia" in 'n skoon laag verf - sy gaan immers 'n
"late starter" wees vir die 2024/2025 tuna seisoen, wat gegewe
die huidige vangste en beskikbaarheid van vis belofte inhou van
'n uitsonderlike tuna seisoen.

Hou maar die
Trawler Heritage aflaaikaai dop in die komende dae van huidige
tunavangste wat afgelaai word - die visse is so groot soos mense!
Wanneer Trawler Heritage nie Port Elizabeth
toe kan gaan nie, dan kom Port Elizabeth sommer
self na Trawler Heritage toe. Afgeneem hieronder op 4 November
2024 op die Gansbaai skeepshelling staan een van Trawler
Heritage se gunsteling tjokkaskuite, die "Esperanza" ter
voorbereding van die 2024/2025 tjokka seisoen.

GEELSIG
EN WATERPOKKIES
UITBRAAK IN DIE BERGRIVIER
Dis weer daai tyd van die
jaar wanneer geelsig en waterpokkies uitbreek onder die
pelagiese vloot - party is goudgeel van die roes terwyl ander
weer vol rooi-kolletjies is - oralste waar die chipping hammers
op die roesmerkies werksaam was...En vir behandeling stuur ons
hulle slip toe - niks wat 'n blik verf nie weer mooi kan
maak nie.
"ATLANTIC LEADER"
(geelsig)

"SOUTH WEST FALCON"
(waterpokkies)

Benewens geelsig en waterpokkies, is daar selfs 'n skuit wat
sukkel met 'n loopneus... aai, die skuite darem!

|
|
" |